POSTTRAUMATIESE STRESVERSTEURING (PTSV)

© Pieter Harris. www.pieterharris.co.za

Op koers van hel op aarde na ‘n geskenk van die gode – posttraumatiese stresversteuring (PTSV)

1. Wat is posttraumatiese stresversteuring?

Posttraumatiese stresversteuring (PTSV) word ook bomskok, gevegsuitputting, ongeluk-neurose of post verkragting sindroom genoem.

Posttraumatiese stres veroorsaak ‘n ongemak en ‘n inmenging in jou daaglikse lewe. Dit gebeur gewoonlik na ‘n traumatiese gebeurtenis. So ‘n persoon word dikwels gekwel deur voortdurende en vreesaanjaende herinneringe rondom ‘n traumatiese gebeurtenis.

In die woorde van Peter A. Levine is trauma hel op aarde. Opgeloste trauma is ‘n geskenk van die gode.

2. Wie word geraak deur PTSV?

Daar word gereken dat tot tien persent van die populasie geraak word deur PTSV. Aanvanklik is gedink dat hierdie versteuring net voorkom by oorlogsveterane. Maar hierdie versteuring kan voorkom by enige iemand wat betrokke was in ‘n betekenisvolle traumatiese gebeurtenis.

3. Wat is die simptome van PTSV?

Simptome van PTSV kom gewoonlik eers voor binne drie maande na die trauma, maar soms kan die toestand eers na vore kom maande, selfs jare na die gebeurtenis.

Kom ons kyk eers wat ‘n posttraumatiese stresversteuring werklik is soos wat dit in die DSM 5 beskryf word.

Nota: Die volgende kriteria is van toepassing op volwassenes, adolossente en kinders ouer as 6 jaar.

A. Blootstelling aan werklike of ‘n dreigende dood, ernstige besering, of seksuele geweld in een (of meer) van die volgende maniere:

1. ‘n Direkte ervaring van die traumatiese gebeurtenis/gebeure.
2. Om direk waar te neem wanneer dit met iemand anders gebeur.
3. Wanneer die traumatiese gebeurtenis met ‘n nabye familielid of met ‘n nabye vriend gebeur. In die geval van ‘n werklike of bedreigde dood, was die gebeurtenis gewelddadig of ‘n ongeluk.
4. Wanneer jy herhaaldelik of verskriklik blootgestel word aan details van die gebeurtenis (bv. wanneer jy menslike oorskot bymekaar moet maak of polisiemanne wat herhaaldelik blootgesel word aan detail van kindermisbruik).
Nota: Kriterium A4 geld nie vir blootstelling deur elektroniese media, televisie, foto’s, films of prente nie, behalwe as die blootstelling werksverwant van aard is.

B. Die teenwoordigheid van een (of meer) van die volgende indringende simptome wat met die traumatiese gebeurtenis/gebeure geassosieer word, wat begin nadat die traumatiese gebeurtenis/gebeure gebeur het:

1. Herhalende, onwillekeurige en indringende ontstellende herinneringe aan die traumatiese gebeurtenis/gebeure.
2. Herhalende ontstellende drome waarin die inhoud en/of die gevoel van die droom verband hou met die traumatiese gebeurtenis/gebeure.
3. Dissosiatiewe reaksies (bv. terugflitse) waarin die individu voel of optree asof die traumatiese gebeurtenis/gebeure weer gebeur. (Sulke reaksies mag op ‘n kontinuum plaasvind met die mees ekstreme ervaring ‘n totale verlies aan bewustheid van alles in die individu se omgewing).
4. Intense of voortdurende sielkundige ontsteltenis by blootstelling aan interne of eksterne leidrade wat ‘n aspek van die traumatiese gebeurtenis/gebeure simboliseer of verteenwoordig.
5. Kenmerkende fisiologiese reaksies by interne of eksterne leidrade wat ‘n aspek van die traumatiese gebeurtenis/gebeure simboliseer of verteenwoordig.

C. Voortdurende vermyding van stimuli wat met die traumatiese gebeurtenis/gebeure geassosieer word, wat begin na die gebeurtenis/gebeure, soos bewys deur een of beide van die volgende:

1. Vermyding van of pogings tot vermyding van ontstellende herinneringe, gedagtes, of gevoelens oor of soortgelyk geassosieer met die traumatiese gebeurtenis/gebeure.
2. Vermyding of pogings tot vermyding van eksterne herinneringe (mense, plekke, gesprekke, aktiwiteite, objekte, situasies) wat ontstellende herinneringe, gedagtes, of gevoelens van die gebeurtenis/gebeure of iets soortgelyk aan die gebeurtenis/gebeure opwek.

D. Negatiewe veranderinge in koginisies en gemoed wat met die traumatiese gebeurtenis/gebeure geassosieer word, wat begin of versleg nadat die traumatiese gebeurtenis/gebeure gebeur het, soos bewys deur twee (of meer) van die volgende:

1. Onvermoë om ‘n belangrike aspek van die traumatiese gebeurtenis/gebeure te onthou.
2. Voortdurende en oordrewe negatiewe denke of verwaginge oor die self, ander, of die wêreld (bv. “ek is sleg”, “niemand kan vertrou word nie”, die wêreld is heeltemal sleg”, “my hele senuweestelsel is permanent geruïneer”).
3. Voortdurende, versteurde kognisies oor die oorsaak of gevolge van die traumatiese gebeurtenis/gebeure wat daartoe lei dat die individu homself/haarself of andere blameer.
4. Aanhoudende negatiewe emosionele toestand (bv. vrees, gruwel, woede, skuld, of skaamte).
5. Kenmerkende verminderde belangstelling of deelname in betekenisvolle aktiwiteite.
6. Gevoelens van afgetrokkenheid of vervreemding van andere.
7. Voordurende onvermoë om positiewe emosies te beleef (bv. onvermoë om geluk, bevrediging of liefdevolle gevoelens te beleef).

E. Kenmerkende veranderinge in opwekking en reaktiwiteit wat met die traumatiese gebeurtenis/gebeure geassosieer word, wat begin het of versleg het na die traumatiese gebeurtenis/gebeure gebeur het, soos bewys deur twee (of meer) van die volgende:

1. Geïrriteerde gedrag en woede-uitbarstings (met min of geen uitlokking) wat tipies uitgedruk word as verbale of fisiese aggressie teenoor mense of dinge.
2. Roekelose of selfvernietigende gedrag.
3. Hiperwaaksaamheid.
4. Oormatige skrikreaksie.
5. Konsentrasieprobleme.
6. Slaapversteuring (bv. probleme om aan die slaap te raak, om aan die slaap te bly, of ‘n rustelose slaap).

F. Durasie van die versteuring (Kriteria B, C, D, en E) is meer as 1 maand.

G. Die versteuring veroorsaak klinies betekenisvolle ongemak of verlamming in sosiale, werks-, of ander belangrike areas van funksionering

H. Die versteuring kan nie toegeskryf word aan die fisiologiese effekte van ‘n substans nie (bv. medikasie, alkohol) of ‘n ander mediese toestand nie.

Mense wat aan PTSV ly, herervaar die gebeurtenis of gebeurtenisse op verskillende maniere. Hulle kry soms skielike herinneringe aan die gebeurtenis asof dit in die hier-en-nou weer gebeur. Dit kan gebeur in die vorm van ‘n terugflits, of drome. Hierdie herinneringe kan ook gesneller word wanneer die persoon blootgestel word aan leidrade wat hom of haar aan hierdie gebeurtenis mag herinner. Ek dink nou spesifiek aan ‘n kliënt wat in ‘n bekende winkel kettingroep in ‘n rooftog ‘n slagoffer was. Hy is voor die loop van ‘n pistool gehou met ‘n man met ‘n geel T-hemp aan. Elke keer as hy ‘n winkel van hierdie groep sien, of selfs ‘n advertensie van hierdie groep sien, en elke keer as hy ‘n pistool sien, of enige persoon met ‘n geel T-hemp aan, kry hy erge sielkundige en fisiese ongemak soos wat ek in die paragraaf onder die volgende een beskryf.

So ‘n persoon sal sulke leidrade ten alle koste probeer vermy. Dit beïnvloed ‘n persoon se verhoudinge met die mense naaste aan hom of haar. So iemand vermy ook nabyheid met mense na aan hom of haar. Emosies word erg onderdruk, soms so erg dat die getraumatiseerde dit soms nie kan voel nie. En wanneer emosies wel ervaar word, is dit moeilik om hierdie emosies te voel.

PTSV lyers probeer situasies vermy wat hulle aan die trauma mag herinner, aangesien die simptome mag vererger as hulle aan leidrade blootgestel mag word wat hulle aan die trauma mag herinner. En wanneer hulle blootgestel word aan sulke situasies, beleef hulle sielkundige ongemak soos angs en spanning, of onaangename emosies. Hulle mag ook fisiese simptome beleef soos sweterigheid, vinniger hartklop, bewerigheid, naarheid ens.

Oor ‘n tyd mag die persoon so bevrees word, dat sy of haar lewe gekenmerk word deur pogings om hierdie situasies te vermy. Hulle kan soms belangrike aspekte van die trauma nie onthou nie, en het ‘n verminderde belangstelling of deelname in betekenisvolle aktiwiteite.

Mense wat aan PTSV ly, sukkel dikwels met slaap. Hulle sukkel om aan die slaap te raak of te bly en het dikwels rustelose nagte. Hulle is dikwels geïrriteerd, en het dikwels probleme om te konsentreer of probleme met hulle korttermyn geheue. Hulle is dikwels hiper-waaksaam en dit is asof hulle die heeltyd oor hulle skouer kyk. En dan is daar die oormatige skrikreaksies. Hulle sal oormatig skrik vir enige geluid wat hulle aan die trauma mag herinner soos ‘n harde slag hulle sal herinner aan ‘n geweerskoot.

Kan jy dink wat gebeur met iemand as hulle weer en weer aan hierdie leidrade blootgestel moet word? Al hierdie simptome stapel op en met gereelde blootstelling kan die simptome vererger word.

Dit is duidelik dat sulke mense na ‘n traumatiese insident ontlont (ge-debrief) moet word. Dit gebeur ongelukkig altyd nie. Daar moet ook in gedagte gehou word dat nie noodwendig die bedreiging van jou eie lewe nie, maar ook die aanskou van ‘n gebeurtenis waar iemand anders se lewe bedreig is of geneem is, PTSV tot gevolg kan hê. En hoe meer gebeure hulle onbehandeld moet ervaar, hoe meer en sterker raak die snellers (of die leidrade) en hoe moeiliker raak dit om hiervan te herstel. En hoe erger raak die PTSV. Studies het gewys dat mense wat dadelik ontlont word, ‘n beduidende minder kans het om PTSV te ontwikkel.

Hierdie probleem word vererger deur die feit dat ‘n PTSV nie onmiddellik na ‘n trauma ontstaan nie, maar eers ongeveer na weke, selfs maande en en jare later kan ontstaan. Die individu mag voel dat hy of sy niks makeer nie, en makeer inderdaad ook nie veel nie, en ‘n klinikus sal ook bitter min indien enige van hierdie simptome aanvanklik raaksien. En wanneer die simptome wel toeslaan, mag die individu nie verstaan waar dit vandaan kom nie.

Die effek op so ‘n persoon se lewe kan juis gesien word in die simptome van PTSV.

Dit is werklik moeilik om met so iemand hieroor te praat, en om te hoor wat hulle voel, want soos jy in die kriteria van PTSV kon agter kom, wil hulle nie hieroor praat nie. Die “terapie” wat tans bestaan, is dat Cowboys nie huil nie, en dat ‘n glas of te veel alkohol, dit verder weg drink, grappe daaroor maak, en môre is dit vergete. En hulle gaan net aan. Daardie inprenting van die gebeurtenis bly egter in die onderbewuste.

Wat hier gebeur, is dat ons verskillende verdedigingsmeganismes het om ons teen sulke herinneringe te verdedig. Een van die beste verdedigingsmeganismes wat in PTSV gebruik word is suppressie (en dis nie ‘n Anglisme nie!). Wat letterlik hier gebeur, is dat daar ‘n groot “betonblok” op hierdie emosies geplaas word, en dit word letterlik onderdruk. Maar hierdie onderdrukte emosies druk egter terug, dis nou emosies van trauma, woede en depressie. Dan is daar ‘n stryd – die woede en die trauma druk op, en die verdedigingsmeganisme druk af. Hierdie teenwigte veroorsaak dan ‘n angstigheid (of stres in algemene terme). Stres in die letterlike sin van die woord is wanneer daar druk van twee teenoorgestelde kante af kom. En hierdie pynlike ervaringe dreig om deur die oppervlakte te breek.

Alkohol laat jou ontspan, en onderdruk die angs. Die gebruik van alkohol is ook ‘n poging om ontslae te raak van hierdie pynlike ervaringe en te vergeet. Die alleenheid en die angs kan met alkohol of ander verdowingsmiddels onderdruk word, hoewel net tydelik. Wanneer so ‘n persoon onder die invloed is, kom hierdie onderdrukte emosies van woede veral na vore, wat meeste van die kere op die mense na aan hulle op daardie stadium uitgehaal word. In die meeste gevalle word die woede uitgereageer tuis op hulle wederhelftes en kinders in die vorm van gesinsgeweld of selfs gesinsmoord of selfdood. Moord en selfdood is die uiterste vorm van woede wat op die uiteinde teen die mense naaste aan jou en jouself gerig word.

Daarmee saam kan daar gevolge wees van depressie, angs en ook sosiale onttrekking.

Daar is hierdie idee, veral onder polisiemanne en soldate dat PTSV net gebeur met “swak” mense. Die waarheid is dat PTSV met die sterkste van ons kan gebeur. Daar gebeur ‘n chemiese reaksie in jou brein, soos met almal van ons. Dit kan met enige een van ons gebeur, en het niks te make met swak of sterk nie. Dis in hierdie opsig net soos kanker. Kanker kan met ‘n sieklike gebeur of met ‘n fikse sterk rugbyspeler. PTSV diskrimineer nie. Van kinders tot tot sterk soldatekan PTSV kry.

Om hulp te soek, is nie ‘n swakheid nie, maar ‘n sterk punt wanneer jy besef jy het hulp nodig, die waagmoed het om ‘n probleem te erken, en hulp te gaan soek.

4. Terapie

Terapie vir PTSV kan eintlik so eenvoudig wees. Deur middel van BWRT, hipnose met die gebruik van NLP, kan so ‘n gebeurtenis of gebeure redelik vinnig gedesensitseer word. Die dae is verby waar jy die kliënt terug neem na die ervaring en hom of haar dit herbeleef. Ons doen dit deesdae op ‘n “gedissosieerde” manier. Ons neem die kliënt terug na die gebeurtenis, maar hy of sy sien dit op ‘n TV-skerm, asof dit gebeur met iemand anders wat toevallig soos hy of sy lyk, toevallig dieselfde gebeurtenis ervaar het, toevallig dieselfde reaksies getoon het, maar dit is nie jy nie. Kliënte ervaar minimale trauma, en is verbaas wanneer hulle agter kom hoe maklik dit werklik is om van hierdie simptome ontslae te raak sonder dat hulle enige iets daadwerklik hoef te doen. Jy hoef nie te ly nie. Dis nie nodig om jou lewe te verwoes met hierdie spoke nie. Gebruik die hulp. Dit is daar. Dit is jou geskenk van die gode.