© Pieter Harris. www.pieterharris.co.za

DIE GROOT VYF wanopvattings

1. Wanopvatting: Depressie is oorgeërf.

Feit: Mense kan ‘n vatbaarheid vir of geneigdheid tot depressie oorerf. Maar depressie word nie oorgeërf nie.

2. Wanopvatting: Depressie word veroorsaak deur ‘n biochemiese wanbalans in die brein.

Feit: In alle depressies is daar biochemiese wanbalanse teenwoordig. Dit beteken egter nie dat ‘n biochemiese wanbalans die oorsaak is nie.

3. Wanopvatting: Depressie het ‘n enkele oorsaak. As ons net die oorsaak kry, kan depressie genees.

Feit: Depressie het altyd meer as net een enkelvoudige oorsaak. Dit is ‘n wisselwerking van verskillende faktore wat depressie veroorsaak

4. Wanopvatting: Daar is iemand iewers daar buite wat jou kan gesond maak.

Feit: Die sleutelfaktor in jou behandeling is jy self!

5. Wanopvatting: Depressie word veroorsaak deur mense en omstandighede buite my beheer.

Feit: Hoe meer jy oortuig is dat dit waar is, hoe meer hulpeloos en hopeloos begin jy voel, wat jou net meer vatbaar maak vir depressie. Die besef dat jy altyd keuse het, kan baie daartoe bydra om jou te bemagtig, ten spyte van omstandighede en ander mense.

Wat veroorsaak depressie?

Mense ontwikkel depressie om baie verskillende redes. Depressie is ‘n ingewikkelde gemoedsversteuring met baie verskillende oorsake, en dit het ‘n diepgaande uitwerking op jou gemoed, denke en jou liggaam. Dit is ook ‘n algemene verskynsel dat mense dikwels hulself blameer omdat hulle depressie ontwikkel het.

Gedagtes soos: “Ek is net mooi vir niks goed nie” of “Ek wens net ek kon iemand anders wees” of “As ek maar net iets kon doen..” word dikwels beskou as die oorsaak van depressie, terwyl dit eintlik meer te doen het met die instandhouding van depressie, nadat depressie reeds begin het.

Daarom is dit noodsaaklik dat mens iets verstaan van die verskillende faktore wat ‘n bydrae kan lewer tot jou depressie, en jou in ‘n afwaartse spiraal na onder laat beweeg (wat beteken dat die depressie al erger en erger word).

Ons kan die risiko faktore vir depressie in drie algemene groepe rangskik:

  • Predisponerende Faktore (“Vatbaarheid” of “sensitiwiteit” vir depressie)
  • Presipiterende Faktore (Die “Snellers” wat dit veroorsaak of aan die gang sit)
  • Instandhoudende Faktore (Wat dit laat aanhou en erger laat word)

Predisponerende Faktore (faktore wat jou sensitief kan maak vir depressie) het te doen met jou agtergrond wat jou risiko vir depressie verhoog. Dit sluit in jou biologiese herkoms (gene en oorerwing), jou fisiologie, jou opvoeding, jou lewensgeskiedenis, jou kulturele agtergrond., jou gesondheid, eetgewoontes en ander soortgelyke faktore. Sommige van hierdie faktore kan jy verander, maar oor ander het jy geen beheer nie.

Presipiterende Faktore (faktore wat depressie simptome kan laat begin) is die sielkundige en fisiese “snellers” (“triggers”) wat depressie laat begin – faktore soos stres, verliese (soos om iemand deur die dood te verloor), siekte of trauma. Soms is dit moeilik om hierdie snellers te identifiseer. Tog is dit moontlik om baie van die Instandhoudende Faktore (Faktore wat die depressie laat aanhou en selfs vererger – sien hieronder) te beheer, te verminder, en te verander, wat die kanse op herstel aansienlik kan verbeter, ongeag die oorsaak of oorsake van die depressie.

Instandhoudende Faktore (faktore wat depressie erger laat word) verskil van die ander twee oorsake in die sin dat dit te voorskyn tree nadat die depressie begin het, en veroorsaak dat die depressie erger of meer intens word. ‘n Voorbeeld is die oormatige gebruik van alkohol ‘n manier om jou depressie te probeer hanteer. Die chemiese uitwerking van alkohol op die brein is dan ook ‘n verdere oorsaak van depressie. Hiermee kan ‘n bose sirkelgang begin waar jy al hoe meer drink omdat jy so depressief voel, en die alkohol laat jou nog meer depressief voel, wat jou weer nog meer laat drink.

Nog ‘n faktor wat ‘n belangrike rol speel in die instandhouding van depressie is jou denkpatrone – jou manier van dink. Denkfoute wat jy maak, soos om voortdurend pessimisties te wees oor alles en almal, wat dan weer ‘n verdere addisionele oorsaak van depressie word.

Keuses speel ook ‘n belangrike rol in depressie. Keuses wat swak besluite aanleiding gee (soos om dwelms te gebruik om depressie te verlig) kan depressie nog verder vererger.

‘n Ander belangrike faktor wat depressie in stand jou is jou gedrag. ‘n Voorbeeld hiervan is om jouself te isoleer en van mense te onttrek. Dit veroorsaak dat jou depressie vererger. Of om op te hou om dinge te doen wat jy vroeër geniet het (aangename aktiwiteite). Of gedrag wat glad nie vir jou werk nie, deur mense te beledig wat jou wil help. Daar is talle en talle voorbeelde van faktore wat verdere oorsake word wat die depressie net laat aanhou.

Sou daar nie aandag aan hierdie instandhoudende faktore gegee word nie, gaan die depressie nie beter word nie.

Depressie en ons Denkwêreld:

Het jy al ooit daaraan gedink dat jy nie in die “regte wêreld” daar buite lewe nie? Trouens, niemand van ons leef in die “regte wêreld” nie! Mense lewe in ‘n wêreld van persepsies – ‘n wêreld van idees, verklarings, waarnemings, gevolgtrekkings, interpretasies, veronderstellinge, opvattings, geloofwaardighede, begrippe en opinies. In kort: Ons leef in ‘n persoonlike wêreld soos ons dit sien, en nie die regte wêreld soos dit werklik daaruit sien nie, sonder ons vooroordele nie.

Ons is wel verbind met die regte wêreld deur ons sintuie – ons oë, ore, vel, neus en mond. Ons sintuie vertel ons van ‘n regte wêreld daarbuite, maar dit is ons taak om vir onsself sin en betekenis daaruit te maak, wat dit vir ons hier binne beteken..

Dit skyn asof daar ‘n regte wêreld daarbuite is, agter die gordyne van ons sintuie, maar ons kan dit nie regtig so waarneem soos dit is nie. Ons waarneming van hierdie wêreld is onvolledig, verdraai, skeefgetrek, en foutief. As ons laaste drie werkgewers ons swak behandel het, neem ons aan die vierde een gaan dit ook doen (selfs sonder dat ons die persoon nog gesien het). As die onderwyser/es op Laerskool vir ons gesê het, ons is dom, neem ons aan dit is nog steeds so. As ons kleintyd amper in die see verdrink het, glo ons tot vandag toe dat die see ‘n gevaarlike plek is. Ons siening – ons beskouing – ons ware ervaring van ons huidige wêreld is gevorm deur ons verlede.

Baie invloede uit ons verlede is nuttig en voordelig, maar ons sieninge van ons huidige wêreld is vol verdraaiinge en verwringinge. Ons gebruik kennis wat vals is, en pas reëls toe wat onwaar is, heg betekenis aan iets sonder dat ons gronde het daarvoor, en ignoreer betekenis as daar wel goeie gronde daarvoor is. Ons siening van die lewe lyk dikwels na die verdraaide spieëlbeelde wat ons in vermaaklikheidsplekke sien, en wat ons opgebou het gedurende die loop van ons lewe. Soms is die spieëlbeeld redelik duidelik en helder, soms weer onherkenbaar krom en skeef en verdraai.

Navorsers het herhaaldelik aangetoon dat depressiewe persone ‘n hele klomp kragtige, negatiewe vooroordele in hul beskouing van hul wêreld het, asof hulle ‘n donker, somber sonbril op het waardeur hulle na die wêreld kyk, en dat hierdie donker siening ‘n groot bydrae lewer in die ontstaan en ontwikkeling van depressie. Of mens nou hiermee saamstem of nie, is dit wel so dat negatiewe denke altyd gepaard gaan met depressie, en dat dit ‘n sneeubal effek veroorsaak wat depressie laat groei, en al erger laat word. Dit hou die depressie as’t ware in stand.

Tydens depressie word die vooroordele en verdraaiinge wat ons met ons saamdra al hoe kragtiger. As jy normaalweg bietjie twyfel aan jou eiewaarde, raak jy tydens depressie oortuig van jou absolute waardeloosheid vir die mensdom. As die wêreld soms vir jou effens vaal en glansloos lyk, word dit gedurende depressie geheel en al leeg en absoluut sinloos. Ons skep nie vir onsself nuwe plekke van hel gedurende depressie nie, die oues word net al hoe warmer.