“ As jy depressief is, leef jy in die verlede. As jy angstig is, leef jy in die toekoms. As jy vrede het, leef jy in die hede. ”
~ Lao Tzu ~

© Pieter Harris. www.pieterharris.co.za

‘n Keuse tussen twee wêrelde – Sielvolheid

“Die mens se gebrek aan selfbewussyn is die oorsaak van alle sondes en misdade” – Martin Versveld, Afrikaanse filosoof.

1. Die twee wêrelde

Jy kan ‘n keuse maak tussen twee wêrelde: Die een wêreld is ‘n beperkte en vreesaanjaende klein wêreld. Die ander een is ‘n eindelose, pragtige, wonderlike, vreugdevolle en triomfanklike wêreld.

Die eerste wêreld is die een waarin die meeste van ons lewe. Dit is die bewustelose siellose lewe. Ons jaag prestasie na, ons lewe geld na, ons lewe ‘n spoglewe na waar ons kan spog op Facebook met ons prestasies of die prestasies van ons kinders.

Ons gaan sielloos deur die lewe. Ons doen dag vir dag wat van ons verwag word om te doen. Ons gaan in ons roetine in – ons gaan werk (en ons haat dit). Gaan haal die kinders, eet aand-ete voor die televisie sonder om notisie te neem van wat ons eet, en ooreet onsself, lê vir ure voor die televisie en kyk na nuttelose afleiding, net om te rus vir die rotteresies wat môre weer gaan begin. Gelukkig vir naweke waar ons langer kan ontspan. Dan gee ons onsself soveel meer oor aan ons verslawings, of dit eet, drink, koop, dobbel, dwelms, seks, rook is, of wat dit ookal is om net tydelik te vergeet van die week wat verby is en die week wat voorlê.

Maar dis ook ‘n vreesaanjaende lewe. In hierdie lewe word jy wat die gemeenskap van jou verwag word om te wees en te doen. Die maatstaf is nou nie meer jyself nie, maar van faktore van buite. Jy kyk na wat ander mense meer as jy bereik het, en jy voel meer en meer soos ‘n mislukking. Jy het geen selfrespek oor nie en jy begin bang en angstig te voel. Jy voel bloot nie goed genoeg nie.

En in hierdie wêreld begin jy terug te gryp na dinge en middele wat jou help om te van dit alles te ontsnap en net te cope.

In hierdie wêreld is daar geen doel en geen sin nie. Dit is ‘n wêreld wat leeg en sinneloos is. Jy is verward en probeer net oorleef. In hierdie wêreld raak jy net meer en meer negatief, en gaan die skoonheid van ons bestaan by jou verby.

En dan is daar die ander wêreld.

In hierdie wêreld is daar ‘n “om te wees” (to be). Daar is bestaan. Daar is suiwer denke. Daar is die Groot Gedagte (God). Hier is jy ‘n produk van God se gedagte. In hierdie wêreld is jy oneindig uniek. In hierdie wêreld is jou aardse bestaan slegs ‘n klein deeltjie van jou ewige bestaan waar

jy aan God behoort en ‘n deel van God is. In hierdie wêreld weet jy net dat jy ‘n taak het om te voltooi, al weet jy nie altyd wat hierdie taak is nie. In hierdie wêreld is jy belangrik vir God, en verantwoordelik aan God. In hierdie wêreld voel jy nie minderwaardig nie. Jy voel nie jy hoef van die werklikheid te ontsnap nie. Jy het nie skadelike en kunsmatige “hulp” van buite af nodig nie.

In hierdie wêreld is jy nie langer bang nie, maar vol verwondering. Vol verwondering oor die wonder van die uitspansel en die onverstaanbaarheid van die grootsheid hiervan en die afwesigheid van ruimtelike en tydsbeperkings. Daar is geen einde aan die grense van ons uitspansel nie. En in hierdie hele uitspansel is jy so klein dat jy eintlik niks is, en tog is jy so groot… In hierdie wêreld het jy net nodig om mooi na jouself om te sien en om te weet dat jy altyd keuses het. In hierdie wêreld is daar ‘n nimmereindigende vreugde en geluk – die avontuur van die lewe self!

As jy die eerste wêreld kies, kies jy jou probleem. Of jy kan kies om die die tweede wêreld, die vrye wêreld sielvol te geniet.

2. Die bewusvolle of sielvolle lewe

Mindfulness of te wel, bewusvolheid of ook sielvolheid beteken ten diepste om in elke oomblik te lewe, so volledig as moontlik te lewe. Nie in die toekoms nie, en ook nie in die verlede nie.

Wanneer jy sielloos lewe, mag jy jouself bekommer oor die toekoms, wat lei tot angsversteurings. Om in die verlede rond te dwaal, lei weer tot depressie en skuldgevoelens. Om oorweldig te voel deur die toekoms of die verlede, neem ons weg van ‘n lewe in die hede, in die nou, en so glip die “nou” wat ons lewe is, by ons verby. Navorsing toon dat sielvolheid benewens angs en depressie suksesvol is in ook die behandeling van psoriase, fibromalgie en chroniese pyn.