“ Die man wat ek na soek, is nie die wat die minste foute maak nie, maar die wat die meeste foute regmaak. ”
~ C.J. Langenhoven ~

‘n Kort beskrywing van Oplossing Gerigte Terapie (SFT):

Uitsonderinge m.b.t. die probleem:

Sielkundiges het deur noukeurige waarnemings begin besef dat daar situasies is, waartydens die probleem(e) wat mense beweeg het om iemand te kom spreek, om een of ander rede glad nie voorkom nie.

Kinders wat bed natmaak, ervaar ook tye wanneer hul beddens droog is. Pare wat rusie maak, het ook dae waarin daar rus en vrede tussen hulle is. Tieners val soms by reëls in sonder om te argumenteer. Meeste mense (sielkundiges ingesluit) dink hierdie probleem-vrye tye het niks te doen met die probleem-tye nie, en dat daar dus geen verband is nie. Gevolglik is daar baie min indien enige iets gedoen om dit te probeer verstaan, en te gebruik om die eintlike probleem (e) te help oplos.

Dit is hierdie uitsonderinge waartydens die probleem nie gebeur nie, wat ons van ‘n ontsaglike hoeveelheid inligting voorsien van alles wat nodig is om die probleem op te los. Oplossings kan gevind word deur die tye waarin die probleem(e) gebeur te vergelyk met die tye waarin dieselfde probleem(e) nie gebeur nie.

Uitsonderinge-2

Uitsonderinge2

Kliënte moet geleer word om eenvoudig meer te doen van dit wat reeds werk, totdat die probleem nie meer bestaan nie. Die hele konsep is eintlik baie eenvoudig. As mense meer sukses wil bereik in hul lewe, meer geluk, en minder stres, dan moet hulle probeer agterkom wat gebeur in daardie tye wanneer hulle wel suksesvol, gelukkig en sonder stres is. Dit is die sleutel vir die oplossing van hul probleem(e). Daarom word mense gevra om aantekeninge te maak van die tye wanneer dit wel goed gaan (selfs al is dit net vir baie kort tydjies). As ons mense begin uitvra oor hierdie uitsonderinge, gebeur daar iets baie interessant. Hulle is doodstil, en sukkel om sulke uitsonderinge te beskryf. Die rede hiervoor is dat mense hul probleme in wit-swart terme beskryf bv. Jy doen nooit iets nie. Ek moet altyd alles doen. Of: Ons kind maak elke nag die bed nat. Dit is baie onwaarskynlik dat dit net een van die twee is wat alles doen, en dat die ander een net mooi niks doen nie. Of dat ‘n kind elke liewe nag die bed natmaak. Maar dit is waarop ons eensydig fokus: die probleem! Ek noem dit boksie-denke. As ons vir mense vra: Wanneer help jou maat jou wel met iets? Of: wat is anders omtrent die tye wat jul kind wel af en toe ‘n droë bed het? Dan sal mense gewoonlik antwoord dat hulle nie eintlik veel aandag hieraan gegee het nie, en dus nie eintlik kan sê nie. Hulle onthou net die probleem tye, omdat dit met soveel emosies en negatiwiteit gepaard gaan.

‘n Ander rede waarom mense nie hierop kan antwoord nie, is omdat mense nie verwag dat hulle gaan praat oor tye waarin dit goed gaan nie. Terapie is ‘n plek om oor probleme en slegte dinge te praat. Sielkundiges wat op TV raad gee, vra nie mense uit oor tye waarin dit goed gaan nie. Hulle praat hoofsaaklik oor probleme, en die moontlike oplossings vir hierdie probleem, sonder om te fokus op tye wanneer die probleem (al is dit net vir kort tye) nie ‘n probleem is nie. In Oplossing Gerigte Terapie is dit juis ons doel, om mense te help om hul fokus te verander, en wyer en verder te fokus as net die onmiddellike probleem. Die volgende verhaaltjie illustreer hierdie punt.

Patch Adams

In die fliek Patch Adams, wat oor die lewe van hierdie besondere en eksentrieke Amerikaanse dokter handel, besluit Patch om homself na ‘n psigiatriese hospitaal te verwys nadat hy tweemaal probeer selfmoord pleeg het. In die hospitaal ontmoet hy verskillende mede-pasiënte, onder wie ‘n bekende wiskundige met die naam Arthur. Arthur het die gewoonte gehad om in die hospitaal tussen pasiënte en personeel rond te beweeg, en dan skielik vier vingers regop voor die persoon te hou, en te vra: “Hoeveel vingers sien jy?” As die antwoord kom: “vier”, het Arthur uitgeroep: “idioot!” en geïrriteerd weggestap.

Patch het laat een nag met Arthur hieroor gesels. Arthur het sy vier vingers regop gehou en Patch gevra hoeveel vingers hy sien. Patch het geantwoord: “Daar is vier vingers, Arthur.” Waarop Arthur vir hom sê: Jy is ook een van daardie mense wat dink dat jy altyd die regte antwoord het. Welkom in die regte lewe! Toe gaan hy verder: “Nee, kyk weer na my. Jy fokus op die probleem (die vier vingers), daarom kan jy nie die oplossing sien nie. Moet nooit op die probleem fokus nie. Kyk na my – kyk na my gesig. Kyk verby die vingers – hoeveel vingers sien jy?” Terwyl Patch sy oë knip om Arthur se gesig duideliker deur die vingers voor hom te sien, sien hy agt vingers – vier regte vingers, en nog vier skadu vingers, en hy antwoord: agt. Waarop Arthur tevrede uitroep: Agt! Goeie antwoord! Jy sien iets wat niemand anders sien nie. Jy sien ook ‘n ander wêreld. Ek dink jy het die pad gekry.

In die moderne psigoterapie is daar ‘n groot verskuiwing weg van probleme, ontledings en patologie na oplossings, vermoëns, en vaardighede waaroor mense reeds beskik.