© Pieter Harris. www.pieterharris.co.za

Gasverligting en vasgevang in Stockholm – emosionele mishandeling

1. Inleiding

Slagoffers van emosionele mishandeling wonder gewoonlik wat fout met hulle is. Jy het hierdie wonderlike man of vrou ontmoet – navorsing wys daarop dat deesdae netsoveel vroue as mans emosionele mishandelaars is. Hierdie persoon se sjarme het jou voete onder jou uitgeslaan, en kort nadat julle saam intrek, verloof of getroud is, begin die mishandeling. Die nuus is vol van emosionele mishandelaars wat gewelddadig raak, en hulle maats aanrand of vermoor. Maar daar is ook die subtiele vorme van mishandeling waar jy geen fisiese wonde sien nie, maar daar is diepe emosionele wonde wat nie gesien kan word nie. Jy glo dat die fout by jou is, want hierdie persoon is perfek en wonderlik. As jy ander mense wat hom of haar ken, hiervan vertel, gaan hulle jou in elk geval nie glo nie. Jy is ‘n slagoffer van emosionele mishandeling.

2. Gasbeligting (Gaslighting)

Gasbeligting is ‘n vorm van emosionele misbruik waarin die misbruiker die situasie herhaaldelik maniuleer om die slagoffer te kry om sy of haar eie geheue en persepsies te wantrou. Dit laat die slagoffer alles waarop hulle hulle hele lewe staat gemaak het bevraagteken en maak hulle onseker van alles. Gasbeligting sal heel waarskynlik veroorsaak dat die slagoffer alles sal glo wat die misbruiker vir hulle vertel ongeag hulle eie ervaring van die situasie. Gasbeligting gaan dikwels ander tipes emosionele misbriuk vooraf aangesien die slagoffer van gasbeligting ook geneig is om in ander misbruikende situasies te bly.

In 1938 het die verhoogspel, Gas Light die lig gesien. In hierdie spel probeer die man sy vrou mal maak deur van ‘n verskeidenheid van tegnieke te gebruik om haar eie geestesgesondheid en persepsies te betwyfel. Die man maak gebruik van lanterns in die solder om na skatte te soek, terwyl hy die res van die huis se ligte dowwer maak wanner sy vrou agter kom dat alles dowwer word. Hy dring egter daarop aan dat dit nie waar is nie, en sy haarself dinge verbeel. Deur dit te doen, probeer hy sy vrou en ander mense oortuig dat sy mal is en dinge verkeerd onthou. Dit is omdat sy nie die ware realiteit kan sien nie en sodoende begin sy haar eie oordeel wantrou. Sy begin dan ook glo dat dit haar fout is. Die vrou is nou te bang om enige probleem na vore te bring omdat sy bang is om die probleem na vore te bring vir die vrees dat sy “verkeerd” mag wees of omdat sy dit nie reg onthou nie. Sy sal dan “gehelp” word om dinge reg te onthou.

3. Wat het in Stockholm gebeur?

‘n Aantal werkers van ‘n bank in Stockholm is tussen 23 Augustus en 28 Augustus 1973 aangehou deur bankrowers tydens ‘n bankroof wat skeef geloop het terwyl die rowers met die polisie onderhandel het. Gedurende hierdie tyd het die slagoffers emosioneel geheg geraak aan die rowers, en het hulle selfs bystand van die regering geweier, en selfs die rowers verdedig nadat hulle bevry was van hulle ses-daagse beproewing.

Die slagoffers het lojaal geraak teenoor hulle vyand. Hulle was afhanklik van hierdie rowers vir toestemming tot kos, medisyne en ook toestemming om na die badkamer te gaan. Hulle het lojaal aan die rowers geraak aangesien die rowers die mense was wat hulle “gehelp” teen die “vyand” (die polisie). Een van die vroue het later verloof geraak aan een van die krimineles en ‘n ander vrou het ‘n fonds gestig om die krimineles te help in hulle regskoste. Hierdie gyselaars het ‘n emosionele band met hulle kapers gevorm.

4. Wat is emosionele mishandeling?

Emosionele afknouery of mishandeling (abuse) behels dat iemand ‘n ander persoon onder sy of haar beheer probeer kry deur mag en beheer. Daar word gepoog om mag oor jou te verkry deur van ‘n verskeidenheid van metodes gebruik te maak, soos vrees, vernedering, intimidasie, skuldgevoelens, manipulasie, dwang, konstante kritiek en selfs fisiese aanranding om jou te onderwerp aan hom of haar.

  • Emosionele mishandeling is ‘n tipe van ‘n breinspoeling wat sistematies die mishandelde se selfvertroue en sin vir selfwaarde afbreek. Die mishandelde verloor metteryd selfvertroue. Emosionele mishandeling is wanneer jy konstant moet hoor hoe sleg jy, jou vriende, jou familie, jou werk, jou waardes en alles wat vir jou belangrik is. Dit veroorsaak dat die mishandelde nie meer glo in hom of haarself nie, al spreek die feite die teendeel en al weet jy ten diepste die teendeel. Maar jy hoor hierdie dinge oor en oor. En later begin jy dit, teen alle rasionele feite, dit te glo. Dit is wat gasbeligting is.

‘n Professor in sielkunde wou eendag vir sy studente demonstreer hoe kondisionering werk. Die studente moes een persoon op kampus kies, en elke keer as hulle hierdie persoon op kampus gesien het moes hulle vir hom sê dat hy bleek lyk en vir hom vra of hy nie dalk siek is en of hy nie naar voel en of sy maag nie werk nie. Dit terwyl hierdie student niks makeer het nie. Hy het op daardie betrokke dag hierdie stellings soveel gehoor dat hy as gevolg van die herhaling dit begin glo het, en toe hy dit begin glo het – sonder enige rasionele redes, is dit presies ook wat teen die einde van die dag met hom gebeur het. Teen die aand het hy gebraak en het maagwerkings gehad. Al het hy niks makeer nie. Dit is presies wat met die mishandelde gebeur. Hy of sy begin later glo dat dit hy of sy is wat verkeerd is of iets verkeerds gedoen het en dat dit alles sy of haar skuld is, al het jy niks daarmee te make nie. Dit kom alles daarop neer dat dit die mishandelde se skuld is, en dat hy of sy iets verkeerd gedoen het.

  • Jy word in alle vorme geïntimideer, selfs met fisiese skade aan jouself, of die kinders, of jou familie en vriende, of jou troeteldiere en eiendom.
  • Die afkraking van jou familie en vriende is ‘n poging om jou te vervreem van jou ondersteuningstrukture om so ekslusiewe beheer oor jou emosies te verkry.
  • Daar word van jou verwag om die mishandelaar se emosies te verstaan, maar daar is geen poging om joune te verstaan nie.
  • Jou probleme of kwessies word as onbelangrik afgemaak.
  • Die mishandelaar se belange kom altyd eerste. Jou belange tel nie.
  • Jy loop op eiers om hulle nie te ontstel nie, want as jy dit doen, is dit jou skuld.
  • Hulle emosies en gevoelens bly altyd die sentrum van aandag.
  • Hulle neem nooit verantwoordelikheid vir die seermaak van ander nie. Dit bly altyd jou skuld. Die argument sal altyd so gedraai word, dat jy die blaam daarvoor sal dra.

Hierdie dinge gebeur oor tyd. Aanvanklik is die mishandelaar aantreklik, sjarmant en hy of sy oorweldig jou geheel en al. En stadig maar seker begin hierdie sjarmante persoon se gedrag te verander. Jy word letterlik in hierdie aantreklike web ingetrek soos ‘n insek wat ‘n spinnekop se web aanloklik mag vind, en dan subtiel vasgevang word in hierdie web. Jy word stadig maar seker ontmag. Dit mag bewustelik of onbewustelik wees, maar dit gebeur stadig en subtiel oor ‘n periode van tyd.

5. Die effek van emosionele mishandeling

Emosionele mishandelingkan lei tot langdurige sielkundige probleme. Emosionele mishandelingvind meestal in liefdesverhoudinge plaas, maar dit mag ook in ander kontekste gebeur soos in die werksomgewing of selfs met vriende en ook tussen ouers en kinders.

  • Die mishandelde se selfbeeld en selfvertroue word so afgekraak dat hy of sy nie net dink dis sy of haar skuld nie, maar bly so vaskleef aan die mishandelaar.
  • Die mishandelde word mooi laat verstaan dat sy of haar behoeftes onbelangrik is.
  • Die mishandelde sukkel ook met probleme soos angs, chroniese depressie, seerkry, vrees, woede, huil, onttrekking, lae selfbeeld, slaapversteurings, siektes, veroudering, afhanklikheid, onderprestering, onvermoë om te vertrou, en ‘n gevoel van hulpeloosheid.
  • Jy word so oortuig oor hoe waardeloos jy is, dat jy later glo dat niemand jou ooit sal wil hê nie, dat jy maar vasklou aan wat jy het, aangesien niemand anders jou sal wil hê nie. Jou grootste vrees is om alleen te wees, en jy word daarvan oortuig dat jy alleen sal wees, aangesien niemand jou sal wil hê nie, en dat jy nêrens het om heen te gaan nie. En daarom bly jy by die mishandelaar, en moet jy dankbaar wees dat hy of sy nog steeds daar sal wees vir jou.
  • Jy mag selfs ‘n tipe posttraumatiese stres ontwikkel.
  • Dit wat verkeerd loop, is alles jou skuld, en dit dra by tot gevoelens van waardeloosheid, nutteloosheid en self-blaam. Die mishandelde glo later dat dit sy of haar skuld is, hoe belaglik dit ookal mag klink. Dit is die gevolg van kondisionering, soos die eksperiment van die professor van wie ek jou vroeër vertel het.
  • Alles wat jy doen is verkeerd, en jy word gekritiseer van jou voorkoms tot jou kleredrag.
  • Jy vereensaam net al hoe verder, voel skaam en hou hierdie mishandeling geheim.
  • En jy raak gewoond daaraan en dink dis maar hoe dit is. Dis waarskynlik die ergste effek.
  • Jy begin al hoe meer alkohol of middelle soos pille of selfs dwelms gebruik om die spanning te verdoof.

Indien jy op die meeste van die bogenoemde positief kan antwoord, is jy gasbelig.

6. Is daar verskillende vorme van mishandeling?

Volgens die literatuur bestaan daar verskillende vorme van mishandeling.

  • Fisiese mishandeling, soos fisiese aanranding en selfs verkragting en moord.
  • Verbale mishandeling, soos beledigings en afkrakings.
  • Sielkundige mishandeling, soos manipulasie, die afdreiging van die vrou waarin sy vertel word dat sy haar kinders gaan verloor of haar finansiële sekuriteit. Spreek ‘n regsgeleerde hieroor. Dit is slegs in ekstreme gevalle waar die vrou haar kinders mag verloor.
  • Emosionele mishandeling, soos die totale beheer oor die ander een.
  • Jaloesie, soos dat jy gereeld beskuldig word van ander verhoudings wat jy het of moontlik mag hê.

Wanneer jy mooi na hierdie tipes kyk, kan jy hierdie tipes in twee kategorieë verdeel:

  1. Overte mishandeing. Overte mishandeling is wat jy kan raaksien. Dis duidelik, en jy kan sien dat die ander persoon jou fisies aanrand of verbaal sleg maak.
  2. Koverte mishandeling of Gasbeligting. Koverte mishandeling is egter so subtiel, dat jy dit met die blote oog en oor nie kan optel nie. Jy word subtiel gemanipuleer, en daar word subtiel beheer oor jou hele lewe geneem.

Wanneer jy egter na hierdie twee tipes kyk, kom dit daarop neer dat alle tipes mishandeling eintlik ‘n koverte element bevat. Beide tipes laat jou voel of daar iets verkeerd is met jou, dat jy iets verkeerd doen, dat jy sleg is en dat jy ontneem moet word van jou interaksie met ander mense.

Dit gaan op die ou einde daaroor dat daar iets fout is met jou, en dat alles wat verkeerd gaan in hierdie verhouding jou skuld is. Of jy geslaan word of verbaal mishandel word, en of jy subtiel net laat verstaan word dat dit jou skuld is, en dat jy verkeerd is – dit kom alles op dieselfde beginsel neer:

Jy word emosioneel mishandel.

Op watter manier jy ookal mishandel word, is die diepste doel van mishandeling om jou onder die mishandelaar se beheer te kry, sodat hy of sy jou letterlik kan beheer, jou lewe en jou doen en late kan beheer. Die rede hiervoor sal jy later sien.

7. Tipes gasbeligtings

7.1 Aggressie

  1. Fisiese aggressie is die mees overte vorm van aggressie waar daar fisies aggressief opgetree word waar jy of jou besittings verinneweer word, jou kinders tot jou troeteldiere aangerand of selfs vermoor word.
  2. Verbale aggressie, soos etikettering (name- calling), sarkasme, beskuldigings, blamering, dreigemente, verkleinering, kritiek en bevele. Die mishandelaar plaas hom of haarself in ‘n meerderwaardige posisie en eien hom of haarself die reg toe om jou te kritiseer.Verbale aggressie kan ook meer koverte vorme innneem soos advies, analisering, verkleinering en ondervraging. Maar dit is net meer subtiele maniere om jou minderwaardig te laat voel, hoewel dit soos hulp lyk. “Ek weet van beter, en jy kan nie sonder my nie”.
  3. Subtiele aggressie – eintlik is alle mishandeling verskillende vorme van aggressie. Dit sal vir jou duideliker raak soos ons aangaan.

7.2 Ontkenning en miskenning

  1. Jou persepsie en mening van dinge word as minderwaardig geag. Jy word as mens en in jou opinie ontken en misken as jou mening enigsins van hulle mening verskil. Jou gevoelens word ook ontken en dit lei tot die verlies aan selfvertroue.
  2. Ontkenning kan ook beteken dat die mishandelaar, wanneer jy hom of haar konfronteer – ontken dat hy of sy dit ooit gesê het of jou gevoelens ontken.
  3. Weerhouding is ‘n ander vorm van ontkenning. Weerhouding behels ‘n weiering om te luister na jou, ‘n weiering om met jou te kommunikeer, en emosionele onttrekking, die sogenaamde silent treatment.

7.3 Minimalisering

  1. Minimalisering is ‘n minder ekstreme vorm van ontkenning en miskenning. Wanneer jy sê hoe jy oor iets voel, kan jy stellings hoor, soos: “Jy is te sensitief; jy oordryf dit; jy ruk dit buite verband.” Jou gevoelens word as minder belangrik afgemaak.
  2. Trivitialisering is waar die mishandelaar jou gevoelens van onbelangrik (trivia) afmaak.
  3. Jou self-esteem word in die proses geminimaliseer of afgebreek. Jou gevoelens is eintlik onbelangrik of simpel.

7.4 Konstante chaos

Die mishandelaar begin berekend raak met argumente en is in konstante konflik met die mishandelde, en mag selfs verslaaf wees aan drama, aangesien dit opwinding skep. Konflik is ten minste opwindend.

7.5 Dominering

Die mishandelaar wil beheer hê oor elke aksie in jou lewe, en wil alles weet wat jy doen, waar jy is, wie jy sien ens., terwyl die mishandelaar al die vryheid het om te doen wat hulle wil, en jy mag geen vrae vra nie.

7.6 Emosionele afpersing

Die mishandelaar misbruik jou eie vrese, skuldgevoelens, medelye en waardes om te kry wat hy of sy wil hê. Hy of sy sal jou byvoorbeeld dreig met die einde van die verhouding, jou totaal verwerp, vir jou die koue skouer gee, of jou afdreig met ander mense wat in hom of haar belang stel, en ander speletjies om jou bang te maak vir die verlies van hierdie persoon.

7.7 Onvoorspelbare reaksies

Daar is drastiese en skielike gemoedsverandering, of skielike woede-uitbarstings wat uit die bloute uit kom. Jy sien dit nie kom nie, en verwag dit nie. Wat vandag okay is om te sê of te doen, mag môre om een of ander rede nie okay wees nie. Jy weet nooit wat vir jou wag nie, en jy is altyd gespanne en waaksaam om nie die verkeerde ding te doen of te sê nie uit vrees vir daardie woede. Dit veroorsaak vrees, selfs angs by jou, en bly jy bang wees om die verkeerde ding te doen of te sê.

7.8 Verwerping

Jou teenwoordigheid, waardes of selfwaarde word verwerp. Jou sienings word as onbelangrik afgemaak.

7.9 Isolering

Isolering is die einddoel van emosionele mishandeling. Jy word totaal afgesny van jou ondersteuningsmeganismes wat jou dalk mag vertel dat daar niks verkeerd is met jou nie. Jy word afgesny van mense wat moontlike bedreigings vir hom of haar kan wees op die gebied van die liefde. Jy word geïsoleer van potensiële nuwe maats. Maar jy word ook geïsoleer van jou familie, vriende en enige iemand anders wat jou dalk net anders mag oortuig. Jy word van alles geïsoleer, selfs van jou eie finansies, sodat jy totaal in sy of haar beheer is, en glad nie daaruit kan kom nie. Die einddoel is om te verseker dat jy so alleen en van alles ontneem is, dat hierdie persoon alles in jou lewe word, sodat jy so afhanklik raak, dat jy hom of haar nooit sal kan of wil verlaat nie.

Die mishandeling raak nooit beter nie, maar word progressief net erger en slegter. En dit beïnvloed jou selfbeeld en selfwaarde oor ‘n verloop van tyd net slegter en slegter. En soos met die voorbeeld van die professor in sielkunde, glo jy dat jy sleg is en dat niemand jou ooit sal wil hê nie. Jy glo dat dit beter sal raak, maar dit raak nooit beter nie. Soveel mense glo dat ‘n troue en kinders die probleem sal oplos. Dit los nie die probleem op nie, dit word inteendeel soveel erger.

8. Kenmerke van die mishandelaar

Die mishandelaar sukkel ironies genoeg met dieselfde kwessies waarmee jy nou sukkel. Dis amper asof hierdie persoon se kwessies op jou afgesmeer het. Die mishandelaar is net ‘n mens is met sy of haar eie kwessies. Hierdie persoon wat so selfversekerd en oorredend voorkom, is ten diepste ‘n erg onseker siel.

  • Die mishandelaar is jaloers, besitlik en kruis-ondervra sy of haar maat gereeld.
  • Die mishandelaar beheer sy of haar maat se hele lewe – met wie jy vriende mag wees of nie, wat jy mag aantrek of nie, wat jy mag doen of nie, selfs jou finansies word deur jou mishandelaar beheer.
  • Die mishandelaar kan vriende bekom soos polisiemanne, regsmense, selfs jou eie familie om jou in die moeilikheid te laat beland sou jy “verkeerd” optree.
  • Die mishandelaar breek in op jou privaatheid, soos om deur jou wagwoorde te breek en op jou Facebook, Twitter of e-pos in te gaan om jou private boodskappe te lees.
  • Die mishandelaar het heel waarskynlik groot geword in ‘n emosioneel mishandelde omgewing, en sulke mishandelde kinders toon as volwassenes meer vyandelike en aggressiewe gedrag, maar is ironies genoeg ook geweldig afhanklik van hulle maats wie hulle juis mishandel.
  • Hulle het negatiewe opinies van hulself en hulle vermoëns.
  • Hulle het oor die algemeen ‘n negatiewe persepsie oor die wêreld om hulle.
  • Die mishandelaar sukkel heel waarskynlik met depressie, angs, posttraumatiese stres en woede.
  • Hy of sy leer dat mishandeling ‘n manier is om hulle eie gevoelens van jaloesie, gemoedskommelings, swak selfbeeld, magteloosheid, vrees, seerkry en woede te hanteer.
  • Die mishandelaar is gevolglik aangetrokke tot mense wie hulself sien as hulpeloos, en nie hulle eie gevoelens, persepsies of sienings na waarde ag nie.

9. Wat jy kan doen

Jy wou nooit in so ‘n verhouding wees nie. Jy het nie gevra daarvoor nie. Enige iemand sou met so ‘n persoon in ‘n verhouding betokke raak en jy het. Hierdie mense is net te ongelooflik aanvanklik, net te wonderlik. Dat dit gevoel het dat dit goed was om waar te wees. Jy het toe ontdek dat dit wel te goed was om waar te wees.

  • Erken eerstens jou gevoelens van magteloosheid, seer, vrees en woede, en sê vir jouself dis hoe jy nou voel.
  • Jy kan tot die besef kom dat dit nie jou fout is nie.
  • Kyk miskien na die redes hoekom jy jouself nie na waarde ag nie. Het jy dalk, veral in jou kinderdae, boodskappe iewers verstaan dat jy nie goed genoeg is nie? Het hierdie probleme hier dalk al ontstaan? Het jou ontkenning, isolasie, ontoepaslike skuld al hier begin en is dit hoekom jy onseker en nie goed genoeg voel nie? Navorsing toon dat tot soveel as 43% mishandeldes, as kind reeds mishandel is.
  • Is dit die gevolg van jou eie onsekerheid met intimiteit, vertroue en commitment wat jou so onseker maak?
  • Is jy so desperaat vir liefde en goedkeuring, dat jy enige iets sal doen dat iemand van jou hou?
  • Dalk is jy so geïntimideer deur iemand anders se woede en kritiek.
  • Leer om jouself na waarde te ag. Jy kan besef dat jy as mens perfek geskape is, en toegerus is met alles wat nodig is om suksesvol te wees en besef dat daar in wese niks verkeerd is met jou nie.
  • Jy het sekere regte as mens, en niemand verdien om emosioneel mishandel te word nie.
  • Jy kan agter kom wat die mishandelaar se eie emosionele kwessies is, en jy gaan besef dat hierdie persoon iewers ‘n gevoel van intense verwerping of ‘n gevoel van uiterste minderwaardigheid het, en jou onder sy of haar duim moet hou om sulke gevoelens te probeer vermy. En die enigste rede om dit te vermy is om jou heeltemal onder sy of haar beheer te hou, ten alle koste.
  • Jy kan dalk nou besef dat die mishandelaar sy of haar kwessies op jou projekteer. Projektering of projeksie beteken dat die persoon jou beskuldig van swakhede wat hy of sy eintlik in hom of haarself sien.
  • Sien ‘n sielkundige om jou meer te help met die impak van emosionele mishandeling. So ‘n persoon kan jou ook help om gesonder maniere aan te leer om hierdie mense te hanteer, ook om mooier te kyk na jou eie behoeftes, en om jou te help besef dat dit nie jou fout is nie.
  • Jy kan ook ‘n geregtelike pad loop, en word in wetskringe gesien as kriminele teistering. Spreek jou prokureur hieroor.
  • Onthou – jy is nie alleen nie. Daar is baie soos jy en hulp is beskikbaar by jou sielkundige, psigiater, dokter, regsadviseur of selfs die polisie.

10. Die reaksie van die mishandelaar

Wanneer die mishandelaar agter kom dat die mishandelde besig is om hom of haar te verlaat, verwag die mishandelaar ‘n wonderwerk of probeer om sy of haar mishandelde te oortuig dat hy of sy op ‘n Damaskus-pad is, waar verandering radikaal is.

Hierdie persoon:

  • Gaan spreek ‘n sielkundige of ‘n lewensafrigter (life coach) en hou radikale verandering voor.
  • Probeer sy of haar sielkundige of lewensafrigter oortuig dat daar radikale verandering is.
  • Probeer om die sielkundige of lewensafrigter te oortuig om die ander party te oortuig dat hierdie verandering wel plaasgevind het.
  • Skryf die mooiste liefdesbriewe of sê die mooiste liefdeswoorde.
  • Dink jy moet dit onmiddellik verstaan en glo en na hom of haar terugkeer.
  • Plaas jou onder druk om dadelik jou besluit te neem.
  • Wys vir almal, insluitende jou familie watter goeie persoon hy of sy is.
  • Gryp oordadig terug na sy of haar rol in die huwelik of gesin – of dit is om oordadig sy of haar deel te doen soos om die wasgoed te was of om gunste vir sy of haar maat te doen.
  • Gryp oordadig terug na Godsdiens. Skielik word daar kerk toe gegaan en huisgodsdiens gehou of gepraat oor God.
  • Gee oordadig tyd en aandag aan jou.
  • Neem kragtig beheer oor sy of haar lewe en ook oor jou lewe.
  • Is oormatig vroom en berouvol.
  • Maak beloftes van ‘n totaal veranderde lewe en verhouding.
  • Vat al die blaam vir alles wat verkeerd gegaan het, en ontken selfs jou rol in wat verkeerd gegaan het.
  • Sê of doen dinge wat alles vir jou reg klink, maar om een of ander rede is dit te goed om waar te wees, en jy het net ‘n onverklaarbare gevoel dat jy nie gemaklik is daarmee nie.

Ek probeer geensins hiermee om jou te oortuig dat die mishandelaar nie kan verander nie. In my ervaring is daar baie mishandelaars wat werklik verander en hiermee volhou, maar daar is ook die mishandelaars wat weldra weer op hulle ou weë terug keer. ‘n Damaskus-ervaring is raar, en dit vat tyd om deur hierdie dinge te werk. Daar is nie ‘n quick-fix nie. Dis eers na ‘n lang en aanhoudende proses waar die mishandelaar werklik deur sy of haar kwessies werk, wanneer verandering kan plaasvind.

As die mishandelaar werklik so lief is vir jou soos wat hy of sy sê, sal hy of sy vir jou wag tot jy gereed is.

En as dit werklik oor jou gevoelens gaan, en as die mishandelaar werklik besorg is oor jou of jou welstand, sal hy of sy jou besluit aanvaar om te bly of te gaan. Indien nie – gaan dit maar net weer oor sy of haar eie gevoelens, en is dit nie liefde nie, maar ‘n obsessie – en dan is ons maar net weer terug by sy of haar eie gevoelens, en die ontkenning van jou gevoelens.

11. ‘n Laaste woord aan die mishandelaar

Jy mag dalk dink dat jy jou maat onder jou beheer het. Wanneer jy so dink, is daar ontstellende nuus vir jou. Jy kan nooit jou maat se siel breek nie, en hoe harder jy probeer, hoe meer vasberade sal dit jou maat maak om hiervan te ontsnap. En dit gebeur op die mees onverwagse tye.

Daarvoor is die mens in hom of haarself net te sterk geskape as mens. Elke mens is perfek geskape met alles wat nodig is om hulle lewe suksesvol te maak. Van hierdie beginsel kan jy geen mens ontneem van nie.

Konfronteer eerder jou eie kwessies. Sielkundige speletjies is speletjies wat nooit werk nie. Alle sielkundige speletjies gaan iewers misluk.

Jou maat gaan hom of haar iewers onttrek hieruit.

Ek kan eindelose voorbeelde opnoem van waar die mishandelaar dink hy of sy het die mishandelde onder sy of haar beheer, om net agter te kom dat die mishandelde sommer net eendag jou verlaat, sonder enige waarskuwing.

Johan (skuilnaam)het sy vrou so mishandel. Sy het vir jare gesmeek dat hy haar beter moet behandel – sy het selfs gesmeek dat hy net eenmaal per maand saam met haar kerk toe moet gaan. Hy het haar onder sy beheer gehad en haar versoeke geïgnoreer. Sy het net eendag besef dat genoeg genoeg is, en sy het hom gelos. Johan het sy lewe omgekeer, en alles en nog meer gedoen wat nodig was. Maar dit was te laat. Sy kon nie meer oortuig word nie. En al het Johan so betrokke geraak by die kerk, dat hy ook bekeer geraak het, en homself laat doop het, was dit te laat.

Daar was John, wie se vrou hom so emosioneel mishandel het. Sy het vir terapie gegaan, en het deur haar probleme gewerk. Maar vir John was dit te laat. Hy het op oujaarsdag besef hy is klaar, en het genoeg gehad. Dit het nie saak gemaak hoeveel sy verander het nie. Hy het onverwags eenvoudig by die deur uit geloop en nooit weer terug gekeer nie. Ironies genoeg, is dit jou doel om jou maat se mag te breek, juis die breek van sy of haar mag wat veroorsaak dat hy of sy ook die mag verloor het om hierdie verhouding te probeer red. En as jou maat hierdie fase bereik het van: ek gee nie meer om nie, is wanneer jy hom of haar finaal verloor het. Want dan maak niks meer saak nie.

Jy kan misbruik en manipuleer soos jy wil – jy sal misluk. Erken jou eie probleem en werk daaraan.

Aan die ander kant is daar mense wat betyds agter gekom het wat hulle doen, en betyds hulle kwessies aangespreek het. Nie alleen het hulle hulle huwelik gered nie, maar dit het sterker geword as enige gemiddelde huwelik.

Wees eerlik met jouself. Wees eerlik met jou gevoelens. Werk dit eers deur, en jy sal jou maat vir ewig onder jou beheer hê – op ‘n goeie manier waarin albei wen – in wedersydse respek en vertroue.

Dis tog wat liefde is.