“ Monsters slaap nie onder jou bed nie. Hulle slaap in jou kop. ”

© Pieter Harris. www.pieterharris.co.za

Die wat as probleem – algemene angsversteuring

1. Inleidend

Die meeste van die mense wat met algemene angsversteuring gediagnoseer word, is altyd verbaas oor hulle diagnose. Dit is juis die mense wat altyd rustig en kalm is wat aan angs mag ly. Tog maak mense met algemene angsversteuring meer as die helfte van my praktyk uit.

2. En jy het gedink die lewe moet maar so wees

As kind het ek ‘n hond gehad, Bobbel. Ek en Bobbel het ‘n vreemde verhouding gehad. Ons was onafskeidbaar, maar het verskriklike gevegte gehad. Soms sou my pa by die deur kom staan, en die situasie betrag en dan net sê: “Arme Bobbel, hy dink die lewe moet maar so wees”.

3. Algemene angsversteuring

‘n Algemene angsversteuring word gekenmerk deur chroniese stres wat vir ten minste ses maande teenwoordig is, maar sonder die gepaardgaande paniekaanvalle, fobies of obsessies. Jy ervaar eenvoudig net die voortdurende stres en bekommernisse.

Om ‘n diagnose van algemene angsversteuring te kry moet jou angs en bekommernisse fokus op twee of meer stresvolle lewensgebeurtenisse (soos byvoorbeeld finansies, verhoudinge, gesondheid of werk – of skoolprestasie) vir die meerderheid van dae in ‘n ses-maande periode. Dit is algemeen dat wanneer jy met ‘n algemene angsversteuring te make het, jy baie bekommernisse het en dat jy baie tyd aan jou bekommernisse spandeer. Jy vind dit moeilik om veel beheer oor jou bekommernisse uit te oefen. Maar meer as dit, is die intensiteit en die frekwensie van die bekommernisse altyd buite proporsie met die moontlikheid dat hierdie dinge werklik sal gebeur.

Diagnostiese kriteria van ‘n algemene angsversteuring volgens die DSM 5:

Oormatige angs en kommer (waarin jy net die ergste verwag), vir ten minste 6 maande oor ‘n aantal gebeure of aktiwiteite. Dis vir jou moeilik om die angs te beheer. Die angs en kommer word geassosieer met drie (of meer) van die onderstaande ses simptome:

  • Rusteloosheid of voel opgewerk of “op die randjie”
  • Word maklik uitgeput
  • Probleme om te konsentreer of jou verstand wat net leeg raak
  • Geïrriteerdheid
  • Spierspanning
  • Slaapversteuring (probleme om aan die slaap te raak, of om aan die slaap te bly, of ‘n rustelose onbevredigende slaap)

Jy mag dalk sukkel om te ontspan. Jy voel die heeltyd onrustig. Jy kan nie dwarsdeur ‘n fliek op televisie stilsit sonder om kort-kort op te spring om eers iets anders te gaan doen nie. Teen die middel van die middag mag jy reeds uitgeput wees en voel om te slaap. Jy mag dalk begin om byvoorbeeld ‘n tydskrif te lees, en na die eerste of tweede paragraaf besef dat jy nie ‘n idee het waaroor hierdie artikel gaan nie. Sommige mense in hulle laat middeljare begin glo dat hulle begin om ‘n vorm van demensie soos Alzheimer-siekte te ontwikkel. Dit mag dalk net angs wees. Jy voel maklik geïrriteerd en veral geraas mag jou eindeloos frustreer. Jy mag moontlik spierspanning ervaar, veral in jou skouers en nek. Jy mag dit dalk toeskryf aan die feit dat jy die heeldag agter jou rekenaar sit, maar dit is nie so nie. Laastens mag jy dalk ‘n insomniac wees. In kort, jy staan bekend as ‘n control freak. Jy ly waarskynlik net aan ‘n algemene angsversteuring.

Jou angs, bekommernisse of selfs fisiese simptome veroorsaak ‘n klinies betekenisvolle probleem in jou sosiale, beroeps- of ander belangrike areas van funksionering.

4. Meelopende toestande

Mense wat aan ‘n algemene angsversteuring ly, mag moontlik meelopend angs- en paniekaanvalle kry. (Lees meer hieroor op my webtuiste www.jorganharris.co.za). Verdere toestande soos obsessief kompulsiewe versteuring (OCD), fobies, sosiale angs, verhoogvrees en posttraumatiese stresversteuring kan meelopend wees.

Algemene angs is dikwels ook die rede agter meeste verslawings, soos alkoholmisbruik.

5. Die biologie agter algemene angsversteuring

In die algemene omgangstaal staan ‘n algemene angsversteuring bekend as stres. Streng sielkundig gesproke, bestaan daar egter nie ‘n term soos stres nie. Dit is algemene angs.

Dit is gewoonlik nie jou omstandighede wat stres of angs veroorsaak nie, maar dis hoe jy daaroor dink. En hierdie denke begin altyd met: “Wat as…?”. “Wat as dit gebeur?” of: “wat as ek dit doen of nie doen nie?”

In die natuur sal ‘n dier, wanneer hy in die moeilikheid is, adrenaline en nor-adrenaline afskei om hom in staat te stel om te veg of te vlug. Vandaar die sogenaamde veg-of-vlug respons. Die dier se hart begin vinniger klop, spiere span saam, asemhaling word vinniger en vlakker ens. om hom in staat te stel om harder te baklei of vinniger weg te kan hardloop. Wanneer die gevaar verby is, gaan slaap die dier om weer sy adrenaline-vlakke op te bou. As mense egter, kan ons nie altyd ons adrenaline gebruik soos ‘n dier nie. Ons kan nie ons bankbestuurder gaan slaan, of van die ontvanger van inkomste weghardloop nie, en daardie adrenaline bly dan vasgevang in ons liggaam, en raak ons angstig.

Daar is egter ook ‘n verdere verskil hier tussen mense en diere. Soms ervaar ons verkeerdelik iets as ‘n bedreiging deurdat ons op ‘n irrasionele manier daaroor dink. Wannneer ons dink dat iets ‘n bedreiging is, gebruik ons dieselfde deel van ons brein wat ons gebruik wanneer daar wel ‘n fisiese bedreiging is, en jou liggaam kry die boodskap dat daar gevaar is en begin om adrenaline af te skei vir die veg-of-vlug reaksie.

Sulke denke begin gewoonlik met “wat as?”. Ek noem angs die wat as siekte. Ons martel onsself met vrae oor moontlike katastrofiese gevolge. En dan gebeur die meeste van ons vrese nooit eers nie!

6. En die lewe hoef nie so te wees nie

Iemand het eenmaal gesê: Ontspan, jy is in elk geval nie in beheer nie!

Ons is in elk geval nie in beheer nie. Hoekom moet ons onsself so bekommer? Ons is gekondisioneer dat die wêreld ‘n gevaarlike plek is, en dat ons die heeltyd op ons hoede moet wees. Ons maak die lewe vir onsself moeilik. Selfs in die Bybel is hoeveel aanhalings wat daarop neerkom dat ons onsself nie hoef te bekommer nie, en dat ons in elk geval niks gaan bereik deur ons te bekommer nie.