Was Mandela ‘n versoener of ‘n terroris?

© Pieter Harris.

Twee konsepte wat ooglopend so lynreg teenoor mekaar staan. Ek volg beide diskoerse, beide kante met goeie argumente en wonder wat die waarheid dan eintlik nou is.

Is dit nie die groot vraag waarmee die filosofie homself besig hou nie? Wat is waarheid? En om ‘n groot sprong te maak, is die konsensus dat waarheid op die ou einde maar dit is wat vir jou waarheid is. En elkeen van ons se waarhede verskil.

Die sielkundige idee van projeksie is dat jy in dinge of mense daarbuite die aspekte sien wat eintlik jouself verteenwoordig. Jy sien in ander mense en dinge jou eie karakter, vrese en versmagtinge.

Jy het die keuse om hom te sien in die lig van wie jy is, met jou eie waarhede. Miskien is jy self ‘n terroris (op baie vlakke) of ‘n slagoffer (wat vrees vir terrorisme… ook van jou eie selfbeeld), of miskien is jy ‘n oorwinnaar wat steeds in die goeie van jouself en ander mense kan en wil glo.

Dit is jou keuse om hom as terroris te sien (en soms wonder ek watter verandering jy teweeg gaan bring met jou lang en deeglike argumente, maar steeds soos ‘n slagoffer te bly voel). Maar dit is ook jou keuse om positiewe lesse uit Mandela te leer, of dit strook met die werklikheid of nie.

Ek kies om in my werklikheid die versoener, vergewer en bevryder (ook van my eie denke) te sien. As ek dit nie doen nie, beperk ek net myself en verarm ek myself in haat, nyd en twis.

En dan wonder ek in die Christelike perspektief wat dit dan beteken om jou naaste lief te hê, veral as ek dan ook my vyand lief moet hê? En ek wonder wie gee ons die reg om die eerste klip te gooi, en om veroordelinge rond te slinger. En ek wonder wat dit beteken om sagmoedig te wees. En ek wonder oor vergewing (en om te vergewe is dalk die selfsugtigste ding wat jy ooit kan doen, want daarsonder is dit maar net jy wat met al die pyn, seer, haat en bang sukkel). En die einste Madiba het gesê alleen vergifnis kan ons vry maak.

En ek wonder oor die dieper wonder.

Wat daarvan as hy dalk wel ‘n kommunis en ‘n terroris was? Waarvoor is ons dan bang? Dat hy of sy volgelinge ons goed en plase sal vat? Wee die kameel wat deur die oog van ‘n naald moet kom. Wee ons verknogdheid aan aardse besittings, wee ons verkoop van al ons rykes se goedere om dit vir die armes te gee (Ja, Jesus se eie woorde). Wee misdaad. Hulle gaan ons goed kom steel, en vergeet dat ons slegs rentmeesters is.

Wee die plaasmoorde en die uitmoording van minderhede. Want as ons die mense kan oortuig dat Mandela ‘n terroris was, sal dit alles eensklaps net so ophou!

‘n Christen glo dat God en God alleen die Enigste Beskikker is van lewe en dood. Ander mense glo dit is Mandela en sy makkers. Hulle, in hulle teenkanting glo eintlik dat hy God is!

Ek dwaal af.

En as jy nou moet sterf as gevolg van misdaad of ‘n plaasaanval, is dit baie tragies. Maar tragedie is deel van hierdie lewe, soos wat God dit geskape het. So tragies soos Job wat alles verloor het. Maar dit is dan ook God se wil. Soos ons ook glo dat Bloedrivier God se wil was, ten spyte van die rou en die seer van daardie ander mense se naasbestaandes en hulle pyn en verdriet.

Ek dwaal weer af.

En as jy dan nou wel sterf, sterf jy om die ontwil van God. Voortydig dalk, wat ons menslike verstand nooit sal verstaan nie.

Maar as jy dan sterf, dan sterf jou liggaam. Dan sterf die vesel. En jou vesel bestaan uit selle, en jou selle bestaan uit proteïne. En proteïne is ‘n molekule, en molekules bestaan uit atome. En binne ‘n atoom is daar absoluut niks nie, behalwe net elektrisiteit. En hierdie elektrisiteit is ‘n gedagte. Wat dus van jou oorbly is ‘n leegte, ‘n materiële niks, ‘n gedagte.

En as jy dood is, is al wat oorbly ‘n gedagte wat terugkeer na die Groot Gedagte, God.

En wanneer jy terugkeer na die Groot Gedagte, gaan die Groot Gedagte vir jou vra wat jy geleer het op aarde. En die Groot Gedagte gaan wonder of jy geleer het van die beginsels van geloof, hoop en liefde.

En as jy vir die Groot Gedagte gaan vertel dat Mandela ‘n terroris was en dat jy niks geleer het nie, gaan Hy besef dat jou lewe arm was. Jy het nie Sy lesse geleer nie. Lesse van liefde, vergewing en hoop nie. Jy het verkies om niks te leer nie, en om Mandela bloot as ‘n terroris te sien.

En, hoe weet ek? Hy mag jou dalk terugstuur as ‘n swart mens onder Apartheid, en vir jou vra: “Hoe voel dit? Wat sou jy doen?”

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply