Ly Suid-Afrikaners aan ‘n kollektiewe slagoffer sindroom? – ‘n Nasie van slagoffers

© Pieter Harris. www.jorganharris.co.za

Max du Preez het onlangs getwiet dat Suid-Afrikaners ‘n nasie van slagoffers geraak het. Hy skryf voorts dat ons verteer word deur selfbejammering.

Alle Suid-Afrikaners van alle kleure het hierdie een ding in gemeen: “almal ly aan ‘n kollektiewe slagoffer-sindroom”. Soos du Preez dit so raak vasvat: “Suid-Afrika het ‘n nasie van slagoffers geword”. Die nuus is vol daarvan. Swart mense voel soos slagoffers van imperialisme, xenofobie, wit vergrype en onderdrukking. Wit mense aan die ander kant voel soos slagoffers van Regstellende Aksie, plaasmoorde, verwydering van wit monumente en die taalkwessie, veral by universiteite.

Hierdie ongelykhede moet nou reg gestel word. Daar is ‘n gevoel van geregtigheid wat moet seevier. Solidariteit, die VF+ en ander Afrikaner organisasies baklei vir die regte van die Afrikaner, gelykheid en regverdigheid. So ook baklei die ANC, Cosatu, die EFF en ander organisasies vir die regte van die voorheen benadeeldes met Regstellende Aksie, kwotas in sport en die herstel van grondbesit. Ongelukkig versterk hierdie oënskynlike edel veldtogte van beide kante net die hierdie kollektiewe slagoffer sindroom.

Dit kan nie goed wees nie, as ‘n voorbeeld, vir ‘n sportman of vrou om te weet hulle is bloot in die span vir kwotas nie. Hulle wil voel hulle is daar uit verdienste. Daar gaan reeds in die DA stemme op dat hulle nuwe leier Mmusi Maimane ook maar net ‘n ander vorm van Regstellende Aksie is. Die bekende Amerikaanse Sielkundige Thomas Ritzman meen dat Regstellende Aksie in Amerika die teenoorgestelde effek het as wat dit bedoel was. Swart Amerikaners het in poste beland op grond van velkleur om ongelykhede reg te stel. Dit het nie die gewensde uitwerking gehad nie, omdat hulle steeds onbevoeg gevoel het om hulle werk te doen, en steeds soos slagoffers gevoel het. Daar is talle voorbeelde plaaslik en in Zimbabwe waar grondhervorming misluk het, en dit herversterk hierdie slagoffer sindroom, en dit op sigself herversterk die gevoel van magteloosheid en minderwaardigheid wat op sy beurt weer gevoelens van woede veroorsaak.

Dit is juis hier waar daar ‘n baie interessante verskynsel intree. Aan die een kant het die ekonomiese balans nie verskuif nie, en is wit mense steeds in beheer van die ekonomie. Aan die ander kant, het wit plakkerskampe en armoede geweldig toegeneem. Aan die een kant het die swart middelklas volgens du Preez ‘n syfer van ses miljoen bereik in slegs twee dekades, en aan die ander kant het swart armoede nie verander nie, selfs vererger ten spyte van al ons maatreëls, en is daar geen verligting aan swart armoede nie en volgens du Preez ontvang meer as 16 miljoen Suid-Afrikaners armoede hulp van die staat in teenstelling met slegs 2.5 miljoen wat armoede hulp van die staat in 1998 ontvang het.

Die situasie word ten spyte van al die pogings van die regering om Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE), kwotas, meer aggressiewe plaas-onteiening ens in te stel, net erger. Misdaad word meer en daar word soms gerasionaliseer dat misdaad is om wat aan hulle behoort terug te vat. Die wreedheid wat daarmee gepaart gaan, veral in plaasmoorde weerspieël in groot waarskynlikheid die woede, magteloosheid en gevoel van verontregting van hierdie mense teenoor mense wat hulle land kom steel het, en moet hierdie slagoffer-sindroom reg gestel word.

Apartheid word hiervoor geblameer. En wanneer daar blameer word, is dit eintlik ‘n uiting van magteloosheid. Maar Apartheid het selfs meer skade aan die wit mens gerig as enige iets anders. Wit mense het oor die algemeen geen dryf of drang gehad nie, en het maar net voort geploeter met hulle karige maar veilige salaris. Sonder enige kreatiwiteit of enterpreneurskap. Na 1994 het wit mense besef dat hulle bevoorregting verby is. Hulle moes hulle veilige werk by die staatsdiens en Afrikaner-organisasies opgee en hulle moes ‘n ander heenkome vind. Baie wit mense het hulle poste verlaat en enterpreneurs geword en veel meer geld verdien as wat hulle ooit het in hulle “veilige” poste. Ander het gekies om soos slagoffers te voel en in plakkerskampe gaan bly. En juis hierdie voordele het Apartheid aan swart Suid-Afrikaners gebied,

Ek is van mening dat Regstellende Aksie presies dieselfde effek op die swart mens het as Apartheid op die wit mens gehad het. Net soos die wit mense, spesifiek die Afrikaner ‘n slagoffer gevoel het van Britse oorheersing en van die Swart Gevaar en kommunisme en homself wou beskerm deur Apartheid en die propagering van ‘n “totale aanslag”, net so voel baie swart mense dieselfde gevoel van magteloosheid en selfbeskerming.

En ook onder swart mense is daar dieselfde tendens as by wit mense vandag. Daar is diegene wat soos slagoffers voel, en voel dat hulle verontreg is en die verontregting sal regstel deur “terug te neem wat aan hulle behoort”, of om bloot te bedel of om in armoede te verval.

Kan ons beheer neem?

Tydens ‘n onlangse toer deur die townships van Kaapstad het ek ook die teenoorgestelde gesien. Die verskriklike armoede in hierdie townships kan so duidelik gesien word. Daar is die mense wat kies om slagoffers te wees en te bedel of om bloot net te verval. Daar is diegene wat misdaad verkies as ‘n Regstellende Aksie. Of dit nou van onwettige krag-aansluitings is, of sogenaamde “chop shops”, sommer so in die oopte of overte misdade soos kapings, roof, ens. Maar juis hier het ek ook die meeste kreatiwiteit gesien van die mens se wil om te oorleef. Of dit nou is om voorruite by verkeersligte te was, of om groente en vrugte te verkoop en of dit is om vooraf vervaardigdigde plakkershutte te verkoop. Ek sien ook hierdie tendens meer en meer by wit mense. Almal oorleef. Daar is ‘n kreatiewe gees in Suid-Afrika, swart en wit!

Die antwoord lê inderdaad iewers anders as waar ons dit soek.

Ek glo nie hierdie slagoffer sindroom is net ‘n Suid-Afrikaanse probleem nie, maar dalk ‘n probleem in die hele Westerse Wêreld. Hierdie slagoffer-sindroom is ook die heersende diskoers in die huidige psigiatrie/sielkunde. Dit is alles in die houding.

Ons is nooit slagoffers nie

Mense word getakseer op wat verkeerd is met hulle, en mense word soos siek mense gediagnoseer en in boksies geplaas. Mense “ly” aan depressie, angs, fobies of wat die “kwaal” ookal mag wees. Mense is

dus ‘n slagoffer van hulle geestestoestand. Ons gaan soek in die sielkunde, net soos in ons land, na die “oorsaak” van die probleem. Of die oorsaak nou jou geboorteproses was, of jou verhouding met jou ouers of trauma (soos plaasmoorde, inbrake en motorkapings) waarvan jy ‘n slagoffer was. Ons soek die oorsaak in dit wat ons soos slagoffers laat voel het. Deur die oorsaak uit te wis, sal die probleem weg gaan- so word gemeen. Deur Jan van Riebeeck, Cecil John Rhodes, HF Verwoerd of selfs buitelanders (met xenofobiese aanvalle) te blameer, en hulle standbeelde af te breek, gaan nie die probleem oplos nie. Deur jouself met kettings aan Oom Paul se monument te bind, simboliseer niks anders as ‘n slagoffer-sindroom nie.

Die grootste kritiek teen sielkundige diagnoses en behandeling is dat die afwesigheid van depressie nie noodwendig geluk, positiewe emosie en betekenis aan jou lewe gaan skep nie. Die afwesigheid van onderdrukking of misdaad beteken ook nie noodwendig vryheid nie.

Meer en meer gaan daar stemme in die sielkunde op dat die mens noot ‘n slagoffer is nie, maar altyd ‘n oorwinnaar. Meer as ‘n oorwinnaar. Daar is soveel moderne sielkundige sisteme wat begin fokus op die mens se innerlike hulpbronne om sy probleme te oorwin en om sy lewe ‘n sukses te maak.

‘n Alternatiewe siening

Onder andere is daar die sogenaamde Positiewe Sielkunde wat fokus op die hulpbronne van die mens om sy probleme te oorwin. Positiewe Sielkunde fokus op konsepte soos Smaking (Savouring), Dankbaarheid, Sielvolheid/Gedagtigheid (Mindfulness), Optimisme, Veerkragtigheid (Resilience), Lewenslustigheid (Vitality) en soveel meer.

Die kernbeginsels van Positiewe Sielkunde:

1. Smaking

Smaking is wanneer jy gedagtes en aksies gebruik om positiewe emosies te waardeer. Dit is om alles wat na jou kant toe kom, te geniet en te smaak. Dis wanneer jy positief oor jouself en jou vermoëns voel.

2. Dankbaarheid

Dit is so maklik om te fokus op dit wat ons nie het nie, as om te fokus op dit wat ons wel het. Dis dalk tyd om te fokus wat ons wel het.

Die Tibetane het ‘n stelling wat soos volg lui: “the moment when we are content, we have enough”. Ons gaan nie content wees wanneer ons genoeg het nie, soos dit in die eerste wêreld gaan. Ons sal genoeg hê wanneer ons content is.

Ek wil hier weer aansluit by Du Preez se stelling dat verwinterde Europese akademici wat hy ontmoet het, verstom was deur ons gebrek aan waardering aan ons stabiliteit, lewenskragtigheid en vooruitgang.

3. Sielvolheid/Gedagtigheid

Suid-Afrikaners kan meer van hulself bewus raak van waar hulle is, wat hulle doen en wat hulle voel. Dit gaan daaroor om dit wat ons wel het, elke oomblik te geniet

4. Optimisme

Jy kan leer om meer optimisties te wees. Jy is nie ‘n slagoffer nie. Jy is nie ‘n slagoffer van jou gene, of opvoeding of van die ervaringe van jou lewe nie.

So ook is jy nie ‘n slagoffer van die gebeure in jou lewe nie. Daar is dinge wat gebeur het, en jy het in die hier en die nou die keuse om te voel soos ‘n slagoffer of om soos ‘n oorwinnaar te voel.

Jy kan kies om ‘n selfvervullende professie te volg, wat daardie denke herversterk. Dit is jou keuse om negatief te bly dink, en om die patroon van jou negatiewe denke te bly herversterk, of dit is jou keuse om ‘n vrees-persoon te wees, of ‘n lewe-persoon.

5. Veerkragtigheid

Veerkragtigheid is daardie vermoë van die mens om na elke terugslag in die lewe sterker terug te kom as ooit vantevore. Dis hierdie mense, wat soos ‘n feniks uit die as herrys sterker, kragtiger en mooier as ooit vantevore.

6. Lewenslustigheid

Lewenslustigheid is vanselfsprekend. Dit is die lus om te lewe, Dit is om werklik te lewe, en om ‘n sukses te maak van jou lewe. Dis wanneer jy kreatief die lus het om kreatiewe oplossings te soek vir probleme.

Ons kan onsself verbeter

Dit is dalk tyd dat die ANC, Solidariteit, die EFF, Cosatu, die VF+ en alle organisasies (selfs die DA) wat fokus op die sogenaamde onreg teen die mens en hulle kollektiewe slagoffer-sindroom, eerder hulle aandag fokus op die ontwikkeling van hulle lede se vermoëns om hulle mense te laat glo in hulself, en om van ons land ‘n sukses te maak.

Dis wanneer ons ophou blameer. Wanneer ons blameer is wanneer ons in die strik van die slagoffer-sindroom beland. Suid-Afrikaners het soveel kreatiwiteit. En kreatiwiteit word so gereeld gebore deur nood. En slegs wanneer ons kreatief is, is wanneer ons uit hierdie slagoffersindroom ontsnap.

Dis wanneer ons soos in Romeine 8:37 besef dat ons meer as oorwinnaars is. Niemand is ooit ‘n slagoffer nie, behalwe as hulle soos slagoffers voel.

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply