Klaar met vrees – my opskorting van my korttermyn versekering

© Pieter Harris.

Ek het vandag al my korttermynversekering gekanselleer. Hierdie is ‘n ope brief en ‘n Mond-uitspoel aan my korttermynversekeraar wat ek sommer net Versekering wil noem – ek, Pieter Harris, wil net braak. Hoewel ek spot met die slagspreuke van een of twee versekeringsmaatskappye, is dit nie noodwendig hulle na wie ek verwys nie.

Gee my asseblief my Listerine aan. Ek het sopas die brief aan my korttermynversekeraar geskryf. Ek het gal gebraak, en nou sit ek met ‘n slegte smaak in my mond. En hier is my nare brief aan my voormalige korttermynversekeaar wat ek bloot Versekering wil noem. Hierdie monduitspoel is nie gerig teen ‘n bepaalde maatskappy nie, maar teen Versekering in die algemeen.

“Met ‘n ewige wrang smaak in die mond, wens ek hiermee om my polis met onmiddelike ingang te beëindig.

Vir ongeveer 13 jaar lank is ek ‘n kliënt van Versekering. Ek betaal elke maand pligsgetrou my premie van ongeveer R 1 400 per maand. In vandag se terme het ek reeds amper R 220 000 aan premies betaal.

In 2003 het ek, nadat ek al vir 6 jaar lank by Versekering verseker was, eisvry, met my kar oor ‘n randsteen gery. Die skade was R 22 000. Na my bybetaling van R 2 000 het Versekering vir die res betaal. Dit was die laaste van my positiewe ervaring met Versekering.

Twee jaar later gooi ek ‘n glas wyn op my skootrekenaar uit en die hele rekenaar brand uit. Ek hou in gedagte dat Versekering nie uitbetaal as jy ‘n ongeluk maak wanneer jy drink en bestuur het nie. Maar tog vergoed Versekering my hiervoor – al het ek gedrink en werk. Geen alkoholtoetse is vereis nie. Met Versekering se reëls het hulle nie hierdie een sien kom nie. Drink en werk hoort by hulle eindelose regulasies vir uitsonderings by te kom. ‘n Wonderwerk gebeur. Ek kry ‘n nuwe rekenaar. Ek kry egter geen uitbetaling nie. Die assessor kom met ‘n nuwe rekenaar onder sy arm vir my daar aan. Ver benede die een wat ek gehad het. Ek aanvaar dat Versekering seker ‘n ooreenkoms met HP aan het, en ‘n rekenaar teen amper kosprys kon verky. Ek meen, ek het ‘n “top of the range” rekenaar gehad, in chroom gehul. En ek kry hierdie rekenaar – swakker en stadiger, gehul in swart plastic. Versekering het seker ‘n goeie ooreenkoms met HP en ek moes maar vat wat ek kry, ongeag my premies. Maar ek moet seker dankbaar wees vir die rekenaar. Ek het immers gedrink en gewerk!

En so eis ek nie weer nie.

Maar iets soos ‘n geen eis-bonus of ex-gratia bestaan daar blykbaar nie.

Al het ek al twee keer in die verlede geëis, het ek in al die dertien jaar nog nooit vir misdaad geëis nie.

In al die jare van versekering by Versekering, het ek baie seker gemaak van sekuriteit. Ek bly in ‘n sekuriteitskompleks, met sekuriteit, patrollies, het treli-doors, versterkte diefwering, elektriese heinings, en ‘n alarm. Ek maak seker dat deure gesluit is en ek maak seker dat alle sekuriteit in plek is. Ek verseker dat niks gesteel word nie. Wanneer ek die huis verlaat, versteek ek selfs my skootrekenaar sodat, indien iemand dit wel reg kry om in te breek, nie my rekenaar sal kry nie. Maar dis presies wat Versekering verwag. Ek moet seker maak dat geen dief hier in sal kom nie, sodat hulle nie hoef te betaal nie.

Maar versekeringsmaatskappye wil ons mos nou oortuig met die leuse van een versekeringsmaatskappy: “rus verseker”. Wel, ek rus nie, en maak seker dat ek seker is. En die een keer dat ek rus – gebeur dit. In een oomblik toe ek gerus het, in ‘n oomblik waarin ek nie gedink het nie, na ‘n 13 daar van ‘n misdaadvrye eisrekord, los ek my skootrekenaar op die passasiersitplek van my motor. Die eerste keer dat ek verseker gerus het, gebeur die onvermydelike. My kar se ruit word uit geslaan en my sak met rekenaar word gesteel.

Een nataligheid. Minder nalatig as toe ek wyn op my vorige skootrekenaar uitgemors het. Nog minder nalatig as die keer toe ek teen ‘n hoë spoed my kar beskadig deur oor die middelman te ry. Intussen is Versekering baie gelukkig om my premies te ontvang en te verhoog omdat ek ‘n doodsonde began het om te eis, maar daar word nie vir my vertel dat die rekenaar gespesifiseerd moet wees nie. Ek het lank na die aanskaffing van my skootrekenaar ‘n DVD-kamera en ‘n leerbaadjie aangeskaf. Daar is vir my vertel dat hierdie items gespesifiseerd moet wees. Die baadjie is lank nie meer in my besit nie, en die kamera het lankal gebreek. Maar niemand vertel my dat die rekenaar gespesifiseerd moet wees nie. Ek is maar net ‘n leek, en dag dit dit deel is van my huis-inhoud. En hoe ek ookal my polis bestudeer het, kan ek nêrens sien dat my rekenaar nie op die voorsitplek van my kar gelos mag word nie.

My eerste prioriteit is egter om my motor se ruit te laat vervang. Ek word meegedeel dat Versekering die beste kwaliteit vir my wil hê. Maar dat PG-glass en nog ‘n gerespekteerde maatskappy nie so ‘ n ruit in voorraad het nie. Ek word vertel dat daar in die hele land nie so ‘n ruit beskikbaar nie. Ek sal so ‘n maand moet wag. Intussen reën dit en ek moet ‘n ruit hê. Daar word voorgestel dat ek sal moet wag, en hulle kan intussen my ruit met plastiek vervang tot tyd en wyl so ‘n ruit ingevoer kan word. En ek dink by myself oor hoe dit moontlik kan wees. BMW word immers in Rosslyn aan mekaar gesit, en dis mos onmoontlik dat daar nie so ‘n ruit plaaslik beskikbaar kan wees nie.

Ek bel toe die plaaslike BMW-agentskap. Nee, hulle het ‘n ruit beskikbaar teen R 370. Dis so ironies dat hierdie agentskap reg oorkant die pad van my makelaar geleë is. Hulle kyk op mekaar se voorstoep uit. Maar daar is in die hele land nie ‘n ruit beskikbaar nie.

Of moet ek sê: nie ‘n goedkoop ruit nie. Ek lig my agentskap toe daaroor in, en hulle bedank my hartlik en is so bly dat hulle ‘n ruit kan kry. Kan ek dit nou regtig glo? Dis te duur vir Versekering se belang. Met hulle ooreenkomste met PG-glass en wie ookal, is dit vir Versekering se belang eerder belangriker dat hulle geld spaar, ongeag die reën en dat daar weer in my kar ingebreek kan word, as wat hulle ‘n sent meer moet betaal. Net soos die feit dat ek desyds tevrede moes wees met ‘n minderwaardige rekenaar, aangesien Versekering ‘n deal met HP aan het. En dit kom daarop neer dat ek, ondanks die feit dat ek ‘n hoë premie betaal, en verseker kan rus, met my bybetaling van R 350, dus feitlik my eie ruit betaal het, en Versekering vir die installasiekoste. En as Versekering hulle sin kon kry met PG glass het ek waarskynlik die volle skade self gedek. Maar ek kan mos nou verseker rus. Ek dink dis eerder ‘n geval van: betaal verseker.

Gelukkig kan ek vir die sak waarin die rekenaar was eis. Nieteenstaande die feit dat die sak ook op die voorsitplek was. Want die rekenaar was in die sak! Miskien sou ek kon argumenteer dat die sak gesteel is – die rekenaar was net toevallig daarin. Die sak se vervangingswaarde is R 3 400. Versekering wil nie vir die rekenaar betaal op die voorsitplek nie, maar betaal wel vir die sak waarin die rekenaar was. As dit nie vir die rekenaar was nie, sou die sak ook nie op die voorsitplek gewees het nie. Maar die sak word betaal! Nou moet ek hoor dat hulle net R 2 000 vir die sak uit sal betaal, waarvan ek in elk geval R 250 bybetaling moet maak. Dus R 1750 vir die sak. Dis die helfte van sy waarde! Waar gaan ek met daardie geld dieselfde sak aanskaf? Nog ‘n reel van Versekering wat ek in die fynskrif nie kon sien nie. My sak is dus nie verseker nie, net ‘n minderwaardige sak van die helfte van die prys.

Miskien moet Versekering dit Gedeeltelike Versekering noem, of Vertwyfeling. As mens verseker is, is jy seker, verseker dat jy beskerm is deur een of ander sambreel met gate wat verseker dat ek nat sal reën terwyl hulle sambreel hulself teen die reën beskerm, terwyl die gate van fynskrif op my neerdaal. Daarom noem ek my kat Versekering, want hy is reg gemaak en dek dus niks nie. Stel nie eens belang om te dek nie. Gaap vir die kat op hitte, en dink – dis nie my probleem nie. Jy kan jouself gaan dek.

Versekering maak so seker dat niemand jou goed gaan steel nie want dan hoef hulle nie uit te betaal nie. Met hierdie sekuriteitsmaatreëls sal enige inbreker eerder die bure aandurf. In 13 jaar het ek nog nie ‘n inbraak gehad nie, omdat ek self seker maak dat ek verseker kan rus. Na ongeveer R 220 000 se premie betalings in vandag se terme, wil Versekering nie eens R 5 000 vir my gee nie. Dis nie eens naastenby die waarde van die rekenaar nie. En dan gaan dit nie eers net oor die monetêre waarde van die rekenaar nie. Ek praat nie eens van die verlies van intellektuele eiendom op die rekenaar nie. Eisprys : prysloos. Om nog minder te praat van die verlies aan werk vir die tydperk wat ek nie ‘n rekenaar gehad het en sekere werk nie kon doen nie, omdat ‘n multi-miljoen Rand maatskappy vir weke aan stry oor R 5 000. Ons kibbel, maar ons betaal nie.

Ek bly vasbeslote dat Versekering vir hierdie rekenaar gaan betaal. As Versekering dit nou nie wil betaal nie, dan sal ek my premies vat om daarvoor te betaal. Julle sou reeds agter kom dat ek my debietorder gestop het. Daardie premies wat ek spaar, sal ek my rekenaar oor ‘n paar maande mee betaal. Daarna gaan ek die premies vat en my sekuriteit nog meer opskerp. Ek gaan dit so opskerp om seker te maak dat ek nie tydens ‘n inbraak vermoor word nie. Behalwe dat Versekering een of ander skuiwergat sal kry om nie te betaal nie, kan my lewe se waarde nie deur Versekering betaal word nie. Wanneer ek veilig in fort Knox sit, sal ek my premie vat, en dit in ‘n spesiale rekening inbetaal om enige toekomstige moontlike skade mee te dek.

Maar wat van my motor? Sê nou maar ek ry in ‘n Mercedes vas? Angs is mos nou maar die siekte van ons tyd. “Wat as dit gebeur” of “wat as dit gebeur?” En so bly ons lewe in hierdie vrees van die “wat asse”. Ons is te bang. Te bang vir verlies. Te bang om te lewe. En hierdie vrees, maak ons te bang om te lewe. Maar ons vra blykbaar nie “wat as Versekering nie uit sal betaal nie?”. Die kanse vir Versekering om uit te betaal is skraler as die kanse dat ek in ‘n Mercedes vas sal ry of deur die oog van ‘n naald sal kom. En ons vergeet van die bybetaling. Ek bestuur al 23 jaar lank, en het nog nie ‘n Mercedes getref nie. Versekering weet dit maar alte goed – dat ons mense bang is vir “wat asse” en sal betaal om verseker te wees. Maar Versekering weet iets wat ons gewone sterflinge nie weet nie. Ons “wat asse” is maar net ‘n vrees met ‘n skraal kans om te gebeur. Ons is in elk geval te vasgevang in hierdie materiële wêreld. Soos die Bybel sê: moet op Prinse en Versekering nie vertrou nie. Versekering is maar eintlik ‘n weddenskap. Ek wed Versekering dat ek ‘n ongeluk sal maak, en Versekering wed my dat ek dit nie sal maak nie. En in die fynskrif maak Versekering seker dat dit hulle nie te duur te staan sal kom as hulle so af en toe die weddenskap verloor nie. En so wen Versekering altyd die weddenskap, en daarmee rig hulle multi-miljoen rand geboue op, betaal hulle werknemers, en doen nog ‘n paar borgskappe ook. Met my geld en my vrees! Met die geld van my vrees.

Ek meen dit was die filosoof, Bertrand Russel wat gesê het: wie vrees, vrees die lewe. En diegene wat die lewe vrees, is reeds driekwart dood.

Ek is nou klaar met die vrees-ding. Ek is klaar met die dood-ding. My “wat as” word nou ‘n “so what”. Dis slegs met hierdie houding dat ek verseker kan rus. Want iewers, oorleef ons altyd. Altyd. En as ons nie oorleef nie – gaan ons dood. En niemand het in elke geval ooit lewendig uit hierdie lewe uit gekom nie. En Versekering gaan nie betaal vir die verlies van my lewe nie. En as hulle gaan, gaan ek dit in elk geval nie weet nie. En ek vrees ook nie meer die dood nie, want in die Hiernamaals sal Versekering ook nie betaal as die snaar van my harp gebreek het nie.

Miskien kan ek my vrees tot my voordeel gebruik, en as ek ‘n Mercedes langs my sien, net meer gemotiveerd wees om ekstra versigtig te bestuur, en dalk nog lewens red. Miskien help dit my om te streef na hoër spirituele waardes, eerder as om my te kwel oor ‘n simpel Mercedes.

Ek het reeds my aftrekorder by Versekering gekanselleer, en dit was so lekker toe die bank my laaste debietorder terug geskryf het. Nou weet ek ook hoe dit voel om ‘n geen-eis bonus te kry. En wanneer ek genoeg geld gespaar het, gaan ek “verseker ” daardie Porsche afskryf. Ten minste kan ek in laat nag drinksessies by my vriende spog oor hoe lekker ek daardie Porsche afgeskryf het, en met ‘n kontant-tjek daarvoor betaal het. Ten minste hoef ek hulle nie te vertel van my versekeringsmaatskappy wat vir my ‘n middel-vinger wys oor hoekom hulle dit nie betaal het nie.

Ja, niks in hierdie ou wêreld is ooit vir seker nie. Verseker”.

En skielik smaak dit soet. Stroopsoet. Soos ‘n Listerine nadat ek my mond na ‘n groot kots uitgespoel het.

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply